Bokomo-brekfisbrief; 19/09/09: Hoe weet Kaalvoet Jasmyn sy het haar Prins gevind?

  • 0

Ek het nog altyd gewonder hoe sal ek weet die oomblik van waarheid het aangebreek ...
Dat ek die Liefde van my lewe ontmoet het?
Liefde in ʼn mansmens verpakte houer.
My eie spesiale trouman.
Hoe sal ek weet dat ek met hom moet trou?
Dat daar nie afdraaipaadjies na ander weivelde is nie?
Dat my hart teen sy liefdesmuur geskrywe is?
Ek het altyd gewonder of my naam (of ten minste my voorletters) iewers op sy voorkop, of dalk op sy voorpoot, of hakskeen geskrywe sal staan?
Ek het self so ver gegaan om te vra - Sal daar ‘n teken soos in die Bybel wees?
Sal die Kleuterplaas se kraanwater met ‘n vlietende oomblik in vonkelwyn verander?
Sal die wind my na sy voordeur bly waai, al beur ek in ‘n ander rigting?
Sal ‘n donderstorm sy naam met elke blits in die hemel skryf?
Sal ek sy reuk tussen alle ander planeetbewoners sin uitsnuffel as die reuk waarop ek al my hele lewe lank spoorsny?
Sal die rooi vissie in Kleuterplaas se rotspoel saggies maar hoorbaar begin sing?
Sal my sussie (Zeldine) se reggemaakte kat kleintjies kry?
Sal ‘n hadida (een met blou oe en ‘n goue stralekrans om die kop) in my tuin kom sit?
Sal ‘n engel my een aand in ‘n droom kom opklop, haar hoof goedkeurend knik en in die wegvlieg bevestigend vir my glimlag?
Sal ek weet?
Ek weet nie.
Ek het drie jaar gelede gedink ek weet.
Ek het so baie gevra waar is dit waar ek nou juis moet huis bou en permanente fondamente behoort te gooi?
Wanneer gaan die oomblik aanbreek dat ek koebaai kan se vir al die ander manlike skepsels op die aarde en ander planete wat nog nie ontdek is nie?
Om die waarheid te se. Ek weet steeds nie.
Maar ek weet die ‘man' is in my bloed. (Bloed wat skoon en ongetroud is)

Ek het egter baie geleer uit my vorige vriendskappe (wat gesneuwel het kort voordat dit in 'n verhouding kon ontwikkel en behoorlik verlief en verloof raak of confetti in my hare beleef).
Vandag is ek wyser (so glo ek). Jasmyn kyk nie net deur haar lewens voordeur se sleutelgat na die manlike skepsels daar buitekant nie. O nee, ek maak my voordeur wa-wyd oop en nooi die skepsels in vir koffie en ruil dan al my nuuskierige vrae met moontlike antwoorde om.
So kan ek ook soos al die ander enkel Eva's die kat (soms is dit meer so iets soos 'n tier of 'n luiperd) noukeurig uit die boom kyk!

XXX

Kaalvoet Jasmyn

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top