Op die parkmark Saterdae verkoop die Zimbabwiërs nou hol harte van geroeste doringdraad. Veral vroue koop dit graag. Jy kan glo mooi goed daarin stop.
Buurvrou Agter het vir my een present gegee, want sy het twee gekoop. Hare, sê sy, hang in haar slaapkamer. Dit lyk mooi. Sy lyk gelukkig.
Ek probeer bly lyk oor my presenthart van geroeste doringdraad.
Hoekom hang my hart?
Hol is die doringdraadharte
volgestopte beloftes
van Afrika se leiers
bloed was nie maklik
van harte nie en
stol tot roes.
Wat gaan ek met my hart doen?
Jelleke Wierenga

