Wat is daar aan die uitbroei ... hoe klink dit dan of jy vir Krokodil flikkers gooi?
Ek trek sommer jou been ...
Ek ook hou ook baie van die nimlike en vurige Krokodil. Ek het nou al baie dae gewonder hoe sy lyk. Op ’n keer was daar ’n foto van haar hier met ’n ANC-keps laag oor die oë getrek – saam met Afrikaan of iemand anders. Ek kan nie meer onthou nie.
As ek haar so in my geestesoog moet optower, sien ek ʼn sexy vrou om die veertig met ʼn swysding in die hand, blertse roet in die hare, laggende oë, bruisende energie ... en net daarna stel ek my voor kan sy stort en in een of ander sexy dingetjie slip, oge salig op die see gerig en in wysheid peins oor die lewe.
Ja, ons het seker almal ons soft spots hier. Dis miskien juis een van die dinge wat ons verslaaf maak aan SêNet.
Ek wonder net wat KdK verslaaf maak aan SêNet. Seker maar sy bekeringsmissie. Ek kan nie juis agterkom dat hy hier vriendskappe gesluit het nie, en die meeste mense is al taamlik Kobus-voos met tolleransievlakke wat taamlik taan. Christelike fundamentalisme is ook nie juis iets waarmee ek veel kan aanvang nie.
Van oesters gepraat: die bestes wat ek al geëet het was in Frankryk – daar waar hulle aan die Normandiese kus uitgehaal word. Ons het daarmee piekniek gehou hoog teen ’n berg oor ’n afgrond by St Malo bo die see.
My man praat bietjie Frans en het die inkopies gedoen. Tot groot konsternasie en verkneukeling van die vishandelaar het hy twee kilogram oesters bestel. Die visman het geskater van die lag, en het gesê oesters word net by die dosyn verkoop. Ons is toe daar weg met twee dosyn oesters, het ’n lang baguette gekoop en ʼn lekker bottel wyn. Ons het toe voetgeslaan, al met ʼn voetpaadjie teen die berg op tot by ʼn bankie wat oor die see uitkyk.
Dis was die mees romantiese piekniek van my lewe. Die see het gebulder, en die wind het deur ons hare gewaai en ons het die sout van die seelug op ons tonge geproe. My man het die oesters een vir een met ’n oestermessie oopgemaak, en toe het ons dit net so uit die dop geslurp!
Die oesters wat ek daarna by Knysna geëet het wat op die oesterbanke daar in die lagune geteel word, het net nie so lekker gesmaak nie. Maar miskien was dit ook die betowering van verlief wees, van St Malo en die see ...
Groetnis
Pouveer


