Jis, Benna!
ʼn Paar jaar gelede toe die Springbokke maar gesukkel het, pleeg Niekie van den Berg hierdie klassieke gemengde metafoor: "Die Springbokke sal nog baie water in die see moet laat loop voor hulle die wa uit die drif kan sleep."
In een stadium het TV mos gereeld snoekerkompetisies gewys. Wyle Retief Uys sê een aand: "Die bal lê voor die ingang tot die gat." Nou ja, dis seker iets wat mens wel kan regredeneer. As dit nodig is.
Heinrich Marnitz het tydens ʼn voorskou vir die eindwedstryd van daai B-seksie Curriebeker-kompetisie (of wat het hulle dit genoem?) met hierdie een te voorskyn gekom: "Griekwas het daarin geslaag om nie die semifinaal te wen nie, ten einde nie in die eindwedstryd te speel nie." Ek onthou nog ek was in my kar, en het so gou as moontlik stilgehou om dit neer te skryf!
En sommer nou die dag, tydens ʼn nuusberig oor atletiek: "Hy het ʼn seker goue medalje misgeloop en tweede geëindig."
Nou ja, dinge gebeur seker soms te vinnig.
Groetnis!
Swys


