Bokomo-brekfisbrief; 19/06/2010: Yes dear, Reusedwerg

  • 0

Wys my die man wat nog nooit ge "yes dear" of ge "ja, liefie" het nie en ek vreet my hoed op.

Hier by my is bv ou "dominee" of "advokaat" of soms "priester" afhangende van ons albei se bui. Regte naam is nie ter sake nie. Wat wel ter sake is, is daai mammie van hom. Nou kyk, ek ken nie geelslange so goed nie, maar die paar wat ek al teëgekom het gaan die wyk neem as hulle vir me Stok (haar regte naam is ook nie ter sake nie) moet teëkom.

Want sien, me Stok kry mos maar haar naam van die stok waarmee sy aldag rondloop, want sy loop en soek vir Dominee en kyk rond of hy nie iewers iets of iemand knyp wat hy nie moet knyp nie. Nie dat hy sou wou nie, want annerdag toe ek hom uitvra oor die groot "slab" tjoklits waarmee hy so wegstap, toe beduie hy my hoeka dat dit vir sy "bokkie" is.

Want sien, Dominee is mos maar wat sommige sal beskou as 'n handlanger. Doodeenvoudige mens wat niks vir niemand vra buiten om hom soms in diens te neem nie.

En so is dit Donderdag. Die dag wat die (soos hulle hier rond beduie die P*** mechanic) padsuster haar rondtes doen. Destyds nog Afdelingsraad se padsuster, nou deesdae een of ander "fensie" naam. Doen steeds dieselle werk, so dit is dus maar steeds p***mechanic of dan nou die padsuster.

En dit is die dag wat "dominee" vir liefie haar pilletjies en poeiertjies en goeters moet loop haal. Bygesê, hy loop haal ook vir homself daai goed wat van rubber (of is dit latex?) gemaak is, maar dis tussen jou en my, en ons gaan mossie uitpratie, gaan ons? En geduldig staan die predikant sy beurt en afwag by suster ******. Nie dat hy iets makeer nie, vir sy liefie, sien. Want sy het altoos 'n skeet of 'n pyn iewers.

En dit is die een ding wat my kwel van alle padsusters: Hulle vertel oral wat wie se skeet is asof dit publieke inligting is. En so weet ons wie het TB of wie se toetse "mag nie bekend gemaak word nie" (hy het die groot ene, vir seker, maar hou dit stil, hoor!). Hoe kan 'n geheim dan nou in elk geval 'n geheim bly by hierdie spesie vir wie ons manne so verafgod? Jy weet: Daai beste wat evolusie kon voortbring ... Daai vroue mense.?

Duifie kom ewe verskrik hier in en beduie dat ek die petalje wat hier in die pad opkom moet kom kyk. Want me Stok is op die oorlogspad en van ver af kan mens duidelik hoor wat sy met arme Dominee gaan maak as sy hom beetkry. Ek gaan nie herhaal wat sy kwytgeraak het nie, maar troos jou daaraan: 'n Matroos kan loop leer by haar. En as ek hy was sou ek dekking loop soek het, en dekking soos in ... ver weg.

Hier kort duskant die padsuster se kombi kan mens hoor hoe die stemtoon begin bedaar. Nie dat sy vergeef nie, bloot vir die wat luister, sien. Vloek-vloek sien ek haar toe so sit, stok in die hand en wag vir dominee wat ewe gedwee uit die kombi klim met die plestiekpakkie vol pille.

"Hier, Liefie, ek het jou pille."

"Watse pille? O, Ok. Hoekom vat dit jou so lank om 'n paar pille te kry? Ek dog jy werk by **** en nou loop jy en stêre bekyk?" Regtig, daai dag was daar nie regtig stêre wat in dominee se smaak sou val nie, nie wat ek van weet nie in elk geval.

En so is sy skel-skel terug huis toe met Dominee wat kop onderstebo vooruit loop. 'n Uur of wat later kom hy in om 'n "Top Deck" te kom koop.

Smaak my die twee het toe tog vrede gemaak. Wonder of daai latex goete aangewend is? Ek wetie, want ek wonder steeds wat mense op hul jare dan nou met sulke goete gaan uitrig wat hulle nie in elk geval daarsonder kon doen nie?

Ek wou hom al vra waaraan hy so sit en dink as hy hier kort duskant halfses die aand sy pyp kom sit en opsteek. Ek sien hy kyk so ver asof hy wonder of iets weet waaroor ons wonder. Ek kyk sy gelate gesig so en ek dink by myself:

Hierdie man dink aan iets of iemand wat nie in die openbaar genoem mag word nie. Dalk beter so dat ons nooit sal weet waaraan of aan wie die ou dink nie, nè? Of dalk geniet hy net sy Boxer-tabak.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top