Bokomo-brekfisbrief; 19/06/08: Nuwe wetgewing

  • 0

Redakteur,

In 'n onlangse onderhoud het Pres Mbeki, op 'n vraag rakende die persepsie van 'n leierskapvakuum in SA, onder andere gesê dat almal in die land leiding moet neem om die "challenges" van die land aan te spreek.

Met die aldus gedelegeerde magte aan my, kondig ek hiermee die volgende nuwe wet aan, wat in werking tree om 24H00 op 17 Junie 2008:

WET OP DIE VOORKOMING VAN KAKPRAAT EN ANDER VORMS VAN WANVOORSTELLING DEUR POLITICI EN STAATSAMPTENARE, NO 2 000 000 VAN 2008

1. Geen politikus, van enige politieke party in die RSA, verkose of andersins, van die regerende party of andersins, en geen amptenaar in diens van die Staat, mag hom of haar enigsins skuldig maak aan enige spraak of voorstellings deur gedrag wat nie die absolute en objektiewe waarheid van 'n aangeleentheid waarop sodanige spraak of gedrag van toepassing is, korrek weergee nie.

2. Sonder om afbreuk te doen aan die algemeenheid van die inhoud van artikel 1 hierbo, word die volgende vorme van kakpraat en wanvoorstelling spesifiek verbied:

2.1. Die gebruik van die woord "challenge" of enige variasie of vertaling daarvan, om 'n ernstige krisis en/of volslae regeringsmislukking te beskryf;

2.2. Die verwysing na "forces", met of sonder die kwalifikasies "dark", "third", "sinister", "counter revolutionary" of "apartheid", om die oorsaak van 'n ernstige krisis of volslae regeringsmislukking te verduidelik;

2.3. Enige voorstelling, deur spraak of gedrag, dat die spreker of dader enigsins enige belange op die hart dra anders as sy of haar eie belang in 'n groot salaris en/of ander finansiële gewin;

3. Enige oortreding van die bepalings van hierdie wet sal 'n misdaad wees.

4. Die toepaslike strafsanksie by skuldigbevinding aan 'n oortreding van hierdie wet sal in die uitsluitlike diskresie van PRESIDENT DEMENTOR wees, en mag insluit die doodstraf, of in die mees uiterste gevalle, 'n weeklange verpligte onderwerping aan 'n onderhoud deur Debora Patta.

OP LAS

Verdere beoogde nuwe wette:

TYDELIKE VERBOD OP DIE GEBRUIK VAN DIE WOORDE "BABY" EN "BOKKIE" IN AFRIKAANSE LIEDJIES, WET NO 2 000 001 VAN 2008 (net tydelik, dat ons net 'n break kan kry, ek meen)

WET OP DIE VERPLIGTE INSLUITING VAN PERCY MONTGOMERY IN DIE SPRINGBOK RUGBYSPAN VIR TEN MINSTE NOG VYF TOETSE SODAT HY SY HONDERDTAL TOETSE KAN BEREIK, WET NO 2 000 003 VAN 2008.

Nog vele ander wette wat ons land 'n beter plek sal maak word in die vooruitsig gestel en ek onderneem om daaraan te werk sodra ek uit hierdie plek kan kom.

Dienstig,

Dementor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top