Bokomo-brekfisbrief; 19/05/2010: Die toppunt van zef

  • 0

Ek beskou myself as ‘n evolusionêre Afrikaner, murg en been (let wel, nie revolusionêr nie). Ek het al die nodige behore wat van my ‘n stoere boer(vrou) maak. My oupagrootjies was gerekende manne onder die Boere, en ek kan my bloedlyn direk terugspoor na Andries Hendrik Potgieter en generaal Piet Cronjé. Kaalvoet oor die Drakensberge, die sou ek dalk nie nou meer kan met my sawwe voetjies nie, maar ek stuit nie sommer vir enige ander duiwel nie (van hulle sweef in ons geledere … ). 

Nouja, heel onlangs is ek toe getroud met ‘n Engelsman, ‘n mooie, soos Leandré graag na hare verwys het. So mettertyd, in ons skawery aan mekaar om uiteindelik mooi inmekaar te kan pas, kom ek agter dat hy sekere dinge wat my na aan die hart lê as uiters uncool (of dan nou zef) beskou. Ek is onthuts en my naeltjies wys … ons grom vir mekaar as die onderwerpe ter sprake kom. Hy haat Abba, ek het grootgeword met hulle en kan vir jou elke (en ek bedoel elke liewe een) liedjie met al die nodige nuanses en byklanke, woord vir woord saamsing. Ek is mal oor Abba! Hy haat potjiekos, en ek beskou myself as ‘n meester in die aanmekaarslaan van ‘n goeie skaapnekpotjie! Magtag, wat is dan nou lekkerder?! Ons stem saam oor sommige Afrikaanse-musiek, die goed wat so lekker rym en waarop mens sommer met die eerste probeerslag al die woorde en die wysie ken. Daai is zef.  As ek egter ‘n glasie rooi wyn in het, en ek sit op Loftus (soos laas Vrydag toe die Bulls so lekker teen die Sharks gewen het), dan sing ek lustig saam aan “Kaptein” en “Baby Tjoklits” …

Ek het altyd vir my seuntjie vertel dat hy moet oppas vir rooi Fords (wel eintlik enige Ford ;-)) – dis zef, en hulle bestuurders luister gewoonlik na Leon Schuster se sokkie-treffers op top volume … ag, red ‘n volk! Is daar ‘n verskil tussen zef en kommin? Ons Afrikanertjies kan nogal lekker kommin wees so in ons handel en wandel. Die blou voortplantingstoerusting wat onderaan die groot Bulls ondersteuners se vier by viers hang … o, dis kommin! Om die k-woord te gebruik, nee wat, kommin! Brandy en Coke, veral ‘n vrou wat dit drink, vrouens wat rook, ou tannies wat stywe jeans dra (ek beskou myself nog nie as ‘n ou tannie nie!), paartjies wat dieselfde hempies aantrek om sodoende hul ewige liefde aan die wêreld te vertoon (my ouma het altoos verwys na die hoenderhaan wat kraai “mag-dit-tog-vir-ewig-duuuuuuuuur!”), Malema-grappies, groot kruise voor jou huis of aan jou lyf, wit sokkies by ‘n jean (veral as jy dit saam met grasshoppers dra … nee eina!), 7de laan, gasbraaiers, ‘n huisie by die dam (met die ongebruikte skiboot en waterfiets in die garage), motiveringsprekers en -boeke (ba!), onkunde oor ander kulture en godsdiens, tegnologiese onbeholpenheid, deurmatjies met teksies op, om te mors (met enigiets, water, kos, ander se emosies, die natuur), special late harvest wyn (bakleiwyn), ouma-panties en groot diamantringe, Facebook se stupid Farmville, kitskoffie, die Vinger as jy jou cool verloor in spitsverkeer, Angus Buchan se mannekampe, ‘n gay persoon wat te ooglopend probeer gay wees – die statement-tipe, gay-bashing, Virgin Active pakkies aan dikgat-lywe, swetende Virgin Active manne (sies!), ek moet seker nou maar eers hoooo … ?

Ek is oortuig baie van ons is closet cases as dit by sekere zef-goed kom, maar dan’s dit goed so, hou dit in daai kas!

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top