Bokomo-brekfisbrief; 19/05/09: Vreedsame naasbestaan

  • 0

 

 

Hiermee à la Yuri 'n pragtige natuurfoto'tjie om my sagmoedige, ootmoedige en verdraagsame kant af te wys ná my rasgebaseerde erupsie (terme à la Melt). Geneem in my eie agtertuin met wyle my eie Sony Cybershot, hurkend agter 'n muurtjie teen laatmiddag.

Hiermee wil ek bewys dat verskillende kleure wel bevrydend van ras en vooroordeel goed kan saambad. In die bad self 'n vlieëvanger-laksman, en respekvol toekykend, Jan Frederik. Bevorderlik vir die vreedsame situasie, buiten die milde laatmiddagson, is die rustige geaardheid van die swart-en-wit meneer (mevrou?) in die bad, so anders as sy vleisverskeurende familielid wat gereeld in skril skreeue op die telefoondraad uithaak.

'n Kamee van samesyn in 'n paar sekondes gestol. 'n Reklamefoto. Want uit die prentjie was ou Borriebors erg ongeduldig en ongeskik met die anderskleurige baddende naaste. Maar dit kan gedoen word, nè, vreedsame naasbestaan, in 'n oomblik van tyd. En wat is tyd anders as oomblikke van nou?

Op 'n minder filosofiese noot oor wyle my kamera: die ding het die gees gegaf nou met die laaste vloed hier op my dorp. Dis nie dat hy deur woeste waters meegesleur is nie - dis ook nie dat hy in die hitte van wild klikkende momente sy kanon op Kanonkop gesien het nie. Ewe nukkerig weier hy enige verdere samewerking oor 'n paar sagte reëndruppeltjies van voor terwyl ek taamlik lank in Langstraat gewaad het om die nie-meer-bestaande brug vir die nageslag te verewig.

Hy was al onder die ligte, oopgemaak, gelaai, gepaai met 'n battery-oorplanting, maar nee, niks kry hom uit sy dooie nuk nie.

Ek is bewus daarvan dat daar mense bestaan (wat nie woordharkers is nie) wat gedurig opgradeer van goed na beter na beste digitale kamera. Indien daar so 'n SêNetter is: hierdie arme woordwerker sal in ekstase jou goeie of beter ou kamera oorneem. 'n Mens kan altyd 'n ruil bedink met 'n naweek se verblyf hier op my mooi dorpie waar die kleure momenteel nog in vrede saambad, indien nou nie saambid nie.

Minsaam gegroet

Jelleke Wierenga

NS: Oor die geel muur: jy kan duisende rande spaar deur jou huis met geel oksiedpigment te verf. Laas het dit nog R5 'n sakkie by die koöperasiewinkel gekos. Meng die poeier na goeddunke met water in 'n roomysbak, vat 'n groot verfkwas, en laat waai. Verf net eers donker kleure met 'n goedkoop wit waterbasisverf toe. Hoe meer dit reën, hoe mooier word dit. Blykbaar noem 'n mens dié voorkoms "shabby chic", soos iemand my nou die dag ingelig het. En ek dog dis maar net ekke wat lekker rondspeel. O ja, die naam "Borriebors" vir Jan Frederik is geskep deur my digterlike vriendin Carol Clark, 'n voëlkenner.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top