Bokomo-brekfisbrief; 19/05/08: Ratatouille en Wallenaar: Amsterdam

  • 0

Julle manne wat waardering vir die rooiligdistrik 🙂 en Amsterdam in sy geheel het, sal weet dat dit ook een van die wêreldstede is wat jou lank kan besig hou. My vriende, wat al jare hier woon, ontdek nog gereeld nuwe dinge, wat al 100de jare hier is!

Hier waar ek nou sit en skryf is ek vier meter onder seevlak. Hier kan seker 'n sondvloed in die kleine plaasvind, en dit kan die 300 coffee shops in 'n oogwink verwoes. Die rare ding met coffee shops is dat hulle wettiglik dagga mag verkoop, maar dat daar nie 'n wettige manier is waarop hulle dit mag aankoop nie.

Ratatouille, ek kyk altyd na ander moontlikhede, binne en buite SA. Ek het die afgelope paar jaar veral op Zambië gefokus, ek sou graag 'n paar jaar in Lusaka wou bly – wonderlike stad. My paar jaar verblyf in Namibië destyds was ook 'n keuse en ervaring; – wonderlike mense, die Namibiërs – veral die Wambo’s en Damaras, maar werklik al die inheemse volke daar. Die Zambiërs is net so: vriendelik, eerlik en niks is te veel moeite vir jou as besoeker nie.

So, ja, ek kyk ook na moontlikhede hier in Nederland. Een ding wat wel vir my soos 'n paal bo water staan, is dat ek 'n goeie ambassadeur vir SA sal wees waar ek ook al is, en nie een van die rugstekers wat om elke hoek en draai ons mooi land afkraak nie. Die mense, grond en kulture van die Afrika-kontinent vloei sterk in my bloed, en al woon ek waar, ek bly 'n trotse Afrikaan en Suid-Afrikaner.

Toevallig het ek 't Mandje kroeg al voorheen gesien, toe dit nog gesluit was, en op Koninginnedag het ek daar tussen die menigtes op Zeedijk 'n bier gaan drink. Daar is 'n interessante storie agter hierdie kroegie, maar later meer daaroor.

Die deel waar ek nou vertoef is totaal geïntegreer, en tweede en derde geslag afstammelinge van Marokkaanse, Turkse en Surinaamse immigrante werk veral hier, en ook in ander dele van die stad en land. Nederland het ook sy fringe groepe wat integrasie befoeter, soos die radikale imams en sekere politici wat nie bereid is om geskiedkundige agtergrond, vreemde kulture en alternatiewe leefwyses te respekteer nie. Onverdraagsame mense, soos ons ook maar tuis sien en hoor, ook op SêNet.

Die immigrasieowerhede hier diskrimineer ook teen sekere voornemende immigrante. Voornemende immigrante moet 'n integrasie-eksamen (taal en samelewing) aflê by die ambassade in hul tuisland, maar net as hulle van sekere lande kom, onder andere alle Afrika-lande en Turkye. Die meeste ryker Westerse lande is uitgesluit van dié vereiste. 'n Man wat dus 'n bruid van Turkye of Marokko na Nederland wil bring, moet 'n redelike bedrag geld betaal en die voornemende bruid moet die eksamen in haar eie land eers slaag. Druip sy, moet sy weer betaal, en weer die eksamen doen. 'n Man wat sy voornemende bruid uit Amerika of Japan wil bring, het 'n baie makliker pad. Sy hoef geen eksamen af te lê nie. So word die mense uit die ryk lande weer bevoordeel, en die Nederlanders wat met 'n Afrikaan of Turk wil trou, moet weer letterlik en figuurlik les opsê.

Dit ruik vir my baie soos diskriminasie, en Human Rights Watch dink ook so, volgens 'n onlangse verslag. Indien hierdie mense die eksamen slaag en hier te lande kom, kan 'n mens hulle dan kwalik neem dat hulle nie welkom voel en nie wil integreer nie? Dan wonder mense nog waarom daar soms ontevredenheid onder die Turkse en Marokkaanse gemeenskap hier is teen die originele Hollanders.

Maar terug by die buurt: Ons het die rugby by Cafe Cosco gekyk, en 'n allemintige 16 euro gespandeer op bier vir net ons twee Suid-Afrikaners. Ek ervaar die buurt net soos Wallenaar dit beskryf – pragtig, verdraagsaam en vriendelik.

Groete

Afrikaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top