Bokomo-brekfisbrief; 19/04/09: Annelisa Weiland en die rekenaar-wildernis

  • 0

 

 

Welkom in die rekenaar-wildernis, liewe A!

Jy gaan sit voor die damn ding en weet nie waffer kant toe nie. Op daai ander GROOT masjien-ding, NIE waar jou skerm is nie, druk jy die grootste knop. Nou word die rekenaar aangesit en daar kom so 'n dingetjie op wat soos 'n uurglas lyk: dit beteken hy's besig om te laai, en jy kan niks doen nie, behalwe sit en wag totdat die uurglas verander in 'n pyltjie.

Nou kyk jy heel onder op jou skerm. Aan die linkerkant staan die volgende:

Start. En langsaan is 'n klomp prentjies - iets wat soos 'n fetussie lyk, dan 'n vergrootglas, 'n "e" en langs dit 'n koeverterige iets. DIS DIE BELANGRIKSTE EEN VIR JOU! Langs dit is 'n grimeerkwassie ook, maar ek weet nie wat dit is nie.

Jy dubbelkliek op die koevertjie en voila! daar verskyn jou skerm met allerhande goed op.

HEEL BO staan goeters soos: Create Mail, Reply all, Forward, Print, Delete, Send/Receive, Adresses, ens. Daar staan ook FIND, maar wát jy daar sal find, weet ek ook nie.

Wanneer jy 'n brief wil skryf, druk jy CREATE MAIL, en wéér kom 'n skermpie op. Heelbo staan allerhande goeters soos File, Edit, Insert, Format, Tools, Message en Help. NIKS daarvan help jou in die minste nie, dit maak jou net meer deurmekaar as wat jy reeds is, en gee jou senuwees nóg 'n paar flenterjies by, ou Hildatjie!

Kyk mooi tot jy iets sien wat lyk soos 'n oopgeslane boek. Daarby staan To. Hier word die adres ingetik vir wie jy wil skryf. Skryf die adres in, en BAIE BELANGRIK: kliek met die muis voor jy die adres intik, anners gebeur daar op die kop niks. Vergeet van CC's en kliek net by Subject. Dis nou waaroor jy gaan skryf, oukei? Selle ou storie: kliek eers daai dekselse muis voor jy dit intik.

Nou staan jou adres vir wie jy gaan skryf daar, asook jou subject. En onder dit is daar 'n groot stuk oop waar jy jou brief kan skryf.

Niks sal gebeur as jy nie eers met jou blooming muis op die oop stuk kliek nie. As jy klaar gekliek het, is daar so 'n strepie wat maerder as jy is, wat so aan en af gaan. NOU kan jy na hartelus begin tik tot die biesies bewe. Die mr-strepie volg jou soos 'n skaduwee terwyl jy tikker-takker.

Wanneer jou brief klaar is, gaan stap jy en jou muis tot daar bo waar Send staan. Kliek in darie blokkie en jou brief word gesend. Nou sien jy hom glad nie, en die eerste skerm staan weer daar.

Soek tot jy iets kry wat sê Send/Recv - en kliek met die donnerse muis in darie blokkie. Dit beteken dat jou brief nou uitgaan op die internet en hopelik receive gaan word aan die ander kant.

Sterkte, Annie! As ek dit kon leer, kan jy wragtag ook, want daar was nog nooit 'n dommer een as ek met sukke goeters nie.

O hel, ek't die skorsies op die stoof gevergeet, en alles het nou net ONTPLOF! Potjie in sy glory verbrand, en skorsies oor die hele kombuis.

Geskwaste liefde

Ellen

NS - Annelisa het dit toe reggekry om te antwoord:

fok suster. dis nie vir sissies nie. liefde madam tiscali.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top