Ek het ook die RSG-program geluister waar die een dame so Engels tussen die Afrikaans gepraat het. Dit klink vir my aaklig wanneer mense so oor die radio praat. En tog meng ek self my taal en kan nie ’n rede gee waarom ek dit doen nie, behalwe dat ek 15 jaar by ’n Engelse skool gewerk het. Daar is dinge wat ek nie so lekker in Afrikaans kan sê nie en ander woorde wat mens nie na Engels kan vertaal nie. Jy sal dalk ’n hartaanval kry as jy by my huis moet kuier wanneer ons familie bymekaar is, want ons is baie tweetalig en my een dogter het met ’n Engelssprekende man getrou. Ons praat dikwels ’n mengsel wat jou hare sal laat regop staan.
Hier in die Noord-Kaap is die taal wat die mense praat vir my so mooi en vreemd dat ek dikwels moet vra dat mense bietjie moet verduidelik. Hulle het die vermoë om die taal so pragtig en beskrywend te gebruik. Ek het ’n oogtoets laat doen vir my bestuurslisensie toe die beampte my vra of ek oop brille dra. Nadat ek hom onbegrypend aangestaar het, het hy gevra of ek die bril permanent dra of net vir lees. Oop brille is ’n bril wat jy permanent dra.
My tuinman lig my nou die oggend in dat hy net gou die vuilgoed uit die akkers gaan spit. Dit het my ’n paar sekondes geneem om te besef hy gaan die onkruid uit die blombeddings haal.
Die mense hier sukkel maar met Engels en party weier om dit te praat. By die myn is dit nou ’n nuwe beleid dat alle vergaderings in Engels moet geskied en genoteer word. Ai nou sukkel die Kalahari-boorlinge. Dit gebeur omtrent elke dag dat iemand my man vir sy handsign op ’n dokument vra.
Na ’n lang vergadering met operateurs en alles in Engels aangebied, steek een van die Tswana werkers sy hand op en sê baie ernstig vir die bestuurder: “Meneer, dis goed en wel ons moet nou alles in Engels doen, maar hierdie Engels wat julle praat ons verstaan hom nie, dis nie die Engels wat ons geleer het nie.”
So praat mense maar die taal heel onbewus van die moets en die moenies waaroor bekommerde intellektuele ellelange briewe en debatte op die internet voer.
Groete,
Vega


