Bokomo-brekfisbrief; 19/02/2010: 5 dinge wat ook belas moet word

  • 0

Gister was minister Gordhan se begrotingsrede. Bykans alles wat lekker is, is voorspelbaar belas - om met jou kar rond te ry, alkohol, sigarette, ensovoorts. Tog is daar goed wat nie belas word nie, wat wel myns insiens belasting hoort aan te trek.

1. PMS. Hierdie is nie soseer 'n belasting nie as "danger pay" vir mans. Vrouens behoort maandeliks 'n bedrag in die fiskus te stort, ten einde mans te vergoed vir die pyn en lyding wat PMS by ons veroorsaak.

2. As daar dan in die toekoms 'n koolstofbelasting gaan wees, wat van 'n warmlug-belasting? Dit moet diegene wat sinnelose opmerkings kwytraak en die atmosfeer verhit en kontamineer met hul uitlatings, penaliseer. Julius Malema, Max du Preez en veral ons eie Francois Williams sal gou-gou bankrotskap moet verklaar omdat hul belasting die hoogte in sal skiet. Terwyl ek daaraan dink, behoort FW driedubbel belas te word vir ongeneesbare faktapgeit.

3. R&B-musiek. O, nee, wag, dis alreeds net so pynlik om R&B te luister as wat dit is om 'n groot tjek te moet skryf as jou aanslag kom. R&B is in der waarheid reeds 'n soort belasting op ons ore. Op 'n paradoksale wyse is hierdie soort "vermaak" alreeds 'n straf. Ek steek eerder 'n braaivleisvuur aan met R200-note as wat ek R&B luister.

4. 'n Sepie-belasting. Sepies word vertoon wanneer almal by die huis kom van die werk af en is 'n bron van matelose irritasie. Diegene wat Days of Our Lives en soortgelyke volslae twak kyk, se belasting moet verdubbel word, ten einde die SABC in staat te stel om eerder ordentlike programmatuur in daardie tydgleuf te beeldsend. Die res van ons se TV-lisensies moet geskrap word.

5. Sharks-ondersteuners, met haai-plakkertjies op hul GP-geregistreerde motors, al het hulle in hul dag des lewens nooit in KZN gebly nie, se jaarlikse lisensiefooie behoort verhonderddubbel te word. Deel van die opbrengs behoort aan die Vrystaatse rugby-unie te gaan, om die Vrystaat te vergoed vir al die spelers wat die Sharks oor die jare afgerokkel het.

Anton B

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top