Bokomo-brekfisbrief; 18/12/09: 'n Ander soort Krismis, Krautie

  • 0

Krautie, ek het lekker gelees aan jou beskrywing van julle yskoue Kersfees daar in Duitsland, en al die wonderlike tradisies wat steeds behoue bly.

Hier by ons in ’n snikhete Namibië op ’n afgeleë plaas verloop dinge heel anders. Die kinders kom met die drie kleintjies uit die Kaap aan, nie gewoond aan die erge warm en droë weer nie. Daar is vir hulle ’n stortkop aan die tuinslang gekoppel, en dié is vasgemaak onder die skadunet-afdak op die grasperk. Dit word altyd ’n heerlike, prettige uitkoms vir grimmige gesiggies. Hier is ook suikersoet waatlemoen en spanspek, druiwe en vye. As vrugte hier groei, dan is dit werklik soet-soet.

Iewers deur die loop van Oukersdag bel Vader Krismis; hy wil met die kinders praat en verneem na die pad. Hy kom met ’n Land Cruiser, want die afstande is te ver vir sy slee-diere. Maar sy pad is lank en daar is baie kindertjies wat besoek moet word, dus belowe hy om sy sak met geskenke sommer by die voorhekkie te los. Hulle moet net vir hom koeldrank en koekies daar neersit en uitkyk vir sy liggies. Gewoonlik sien die grootmense net sy rooi agterliggies tussen die bosse en doringbome verdwyn; die kinders is nog te klein om so ver te sien.

Die geskenke kom onder die mooi versierde droë doringtak-Kersboom en word deur die oupa uitgedeel. Groot opgewondenheid elke keer, want Kersvader het sowaar al hul briewe gelees en al die regte goed gebring. Vanaand slaap hulle sommer met die speelgoed by hulle op die kampbedjies buite onder die sterrehemel. Hierdie jaar sal die maan donker wees en die miljoene sterre sal helder skyn in die stil swart nag.

Die nagte hier is koel as die wind suid staan, soos ons hierdie Kersfees verwag volgens die weertekens. Dit raak so stil dat jy die stilte kan hóór. Die enigste geluide nou en dan is die geroep van die lang-asem, en as die dag begin breek die tortelduifies en die lawaai van die voëltjies in die versamelneste.

Kersdag bring baie vreugde met talle goeie-wense oproepe tussen naby en ver familie en vriende. Geen warm kosse en geswoeg voor die stoof nie. Alles word reeds vooraf berei. Miskien sal ons teen laatmiddag die kinders vat om op die duine te gaan speel - as hulle nie reeds sat gebaljaar is nie. Vanaand is almal moeg en tam.

Nog ’n Kersfees, nog ’n jaar verby. Volgende jaar is dit die ander grootouers se beurt en óns sal verlang, as ons nog ’n jaar gespaar bly.

Geseënde Kerstyd vir julle, Krautie, daar in die verre Duitsland, en vir almal wat hier lees.

Lorca

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top