Ek wonder wat is die verskil. Soms is daar trane in 'n mens se oë, maar jy huil nie en jou hart is nie seer nie. Tog kon ek nog nooit huil as ek nie hartseer was nie. Dan weer, was ek al hartseer sonder om 'n traan te stort of te huil.
Sekere gebeure bring trane; trane van blydskap is sekerlik die lekkerste. Kos kan jou laat verstik, en so trane bring. Ander kere kan een of ander terugblik jou weer met hartseer en trane in jou oë laat. Maar wanneer huil 'n mens, pik jy net 'n traan weg, of is jy hartseer?
Ek het ook al gehuil wanneer iemand 'n leuen vertel.
'n Goeie boek kan my soms tranerig maak, en so ook hier en daar 'n goeie fliek. Glo dit, soms ook musiek. Gewoonlik is dit maar 'n kitsch fliek of 'n Ena Murray-boek. Net soos die meeste Huisgenoot-lesers dit altyd stel, 'nie dat ek al een gelees het nie', maar ek kan my indink dat dit hartseer moet wees. Ena skryf dan oor die liefde, en dan moet iemand se hart mos breek. Daardie pyn maak jou hart so seer, en dan huil 'n mens.
Kan ek nou verder b(l)ieg? Ek glo ook nie meer aan die liefde nie, dit maak jou hart net seer. Dit is hoekom ek weet 'n mens kan homself leeg huil van hartseer.
Hartseer musiek? Connie Francis, skat! Dan dink ek aan Malcolm, Bennie en Gerhard. Ek huil dan van plesier. Soms dink ek aan Bennie se voorliefde vir 'n onbekende sangeres se musiek, haar man 'n ryk plaasboer. Sy kon net mooi geen noot hou om haar lewe te red nie, maar tog het sy 'n plaat gesny. Ek lag ook vir die Briel-susters en Malcolm-hulle se namaak van "Een aand op 'n trein na Pretoria", so skreeusnaaks dat my oë met denke daaraan weer met vreugdetrane vul. Goeie tye.
Ek dink baie aan my pa en ma as ek oor trane, huil en hartseer dink. My pa het ek, so dink ek, net eenkeer sien huil, maar sonder trane, net 'n snik. Sy keelkanker het hom vir 18 maande lank uitgemergel, want hy kon nie eet nie, net verpoeierde kos drink. Of was dit omdat hy met God soos Jakob van die Bybel geworstel het oor die vraag: Waarom ek, o God? Ek dink ek het hom al hartseer gesien, maar trane? Nie wat ek kan onthou nie.
Hy was 'n jong seuntjie in 1933. Sy pa het alles verloor, en hy, as enigste kind, sy ma. Sy kon nie die droogte en Depressie van 1933 en die uitboer verwerk nie en het wolwegif gedrink. My pa het op haar liggaam in die veld naby die skaapkraal, wat reeds leeg was, want daar was nie meer weiding nie, afgekom. Ek dink dit is waar hy al die trane wat hy ooit in hom gehad het, uitgehuil het. Ek dink ek weet. Hy moes sekerlik op die grond daar langs haar gaan lê het en 'n vloermoer gegooi het. Hy moes van pyn geskree het, soos 'n weerwolf, of eerder, dink ek, amper soos 'n klein babatjie. 'n Baba wat waansinnig van pyn met ernstige koliek, sonder 'n ma om die winde uit te vryf, sou skreeuhuil.
Ek ken daardie huil, nee, eerder tjank van hartseer, pyn en trane as jy iemand verloor wat jy liewer as jouself het. Ek dink nie hy het gehuil toe my oupa baie jare later dood is nie. My ma, dink ek, het soms gehuil oor my pa en omdat hy nie kon huil nie.
Ek wonder wanneer laas het jy oor vreemde mense en hulle verskriklike pyn gehuil?
Gisteraand het ek. Die brandweer kon net vyf mense red van 'n brandende gebou naby my. Die brandweerman wat die laaste persoon uit die steeds brandende gebou kon dra, het sy gesig probeer wegdraai van ons af toe hy sy suurstofmasker afhaal. Sy liggaam het geruk en die trane het langs sy wange afgestroom. Sy beskermende klere was geskroei. Op die einde van die gang het die vlamme steeds op die vals maat van hulle oorwinningslied gesing en dans ondanks die tjank, en strome trane van die brandweerwa.
Daar was glo 'n ongeredde moeder en haar babatjie in daardie deel van die woonstelblok - sy vrou en enigste kind, so vertel hulle ons.
Laasnag het ek gedroom ek hoor weer 'n weerwolf skreeu en tjank.
Opgedra en ter nagedagtenis aan Nerine Viljoen, haar familie en vriende.
Groete,
Christoffel


