Bokomo-brekfisbrief; 18/10/09: Sondagskool Piekniekkos

  • 0

Gedurende ʼn ander eeu (ja! Regtig.) was ons gereelde Sondagskoolkinders.

Elke Sondag getrou in die klas, gepoets en gepolish, skoon en netjies want Ma het gekyk.

Ons het versies geleer, liedjies gesing, stories geluister, gevroetel en ons soos gewone kinders gedra.

Elke jaar, natuurlik, Paastyd deurgeworstel (Engelse kerk), Kersfees dan die klein opvoering en die hoogtepunt van die jaar, die Sondagskoolpiekniek.

Ons het gewoonlik bus gery tot by die Fonteine, Pretoria, wat destyds nog ʼn baie lekker piekniekplek was.

Ons het gehardloop, gespeel, rooi koeldrank en harde buns gekry teetyd en dan die feesmaal etenstyd. Een worsrolletjie per kind, toegegooi in tamatiesous omdat daar nie botter op was nie, een hardgekookte (effens blou binne) eier, ʼn halwe pienk coconut bun en weer rooi koeldrank. Nie vandag se gissende tipe nie, o nee! Hierdie was rooi aangemaakte stroop wat met water gemeng is. Heerlik!!!! Die grootmense het die ‘Primus’-stofies aangesit en teewater gekook om lafenis saam met hul maaltyd te geniet.

So 15h00 se kant het die dames die kinders bymekaar gemaak, lekker pakkies uitgedeel en gesorg dat iedere een weer op die bus geklim het.

By die huis gekom, was jy vuil, moeg, suikervlak die hoogte in maar dit was altyd die moeite werd.

Groete

Evie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top