Bokomo-brekfisbrief; 18/08/08: Oom So-ja se boerboele

  • 0

Ons ou buurman was die goedheid self. Die Bloemhofs het die buitengewone gawe gehad om nederig te leef, om tot veel vrug vir die mense om hulle, en die kerk te wees, en om veel plesier uit gewone dinge te put.

Maar moenie nou staan en dink dat Oom So-ja hom enigsins vroom gehou het nie. Hy had die rare gawe om homself nie te ernstig op te neem nie – soos destyds toe die langbeenmeisiekind daar op die werf aangery gekom het.

Dit was in die vroeë tagtigs toe die aanvallige dametjie in ’n donkergroen Mini-Minor met Kaapse nommerplate van plaas tot plaas gery om allerlei produkte te verkoop. Dit was van daardie goed wat jy nog nooit van geweet het nie, maar waarsonder jy glad nie kon klaarkom as die langbeenmeisiekind eers uit die Mini geklim het nie.

Een blikkie in ’n enjin het byvoorbeeld verhoed dat dit ooit oppak (genuine!), ’n ander smeer op die waaierband het dit vir altyd teen glip en verwering bewaar, nog ’n aanspuitmiddel in pragtige rooi en blou op die batterypole het aanpaksel vermy, ’n enkele blikkie vir die verkoeler het alle korrosie van die plaas af verban en gelukkig tog was daar nog ’n hele 37 ander wonderlike produkte waarsonder ’n mens glad nie meer sou kon verder boer nie.

Daardie jare was die tipe van besoek op plase nog algemeen. Smouse wat Persiese tapyte, skilderye en Kirby-stofsuiers in die voorkamer uitgepak het was nie ’n ongereelde gesig nie. Maar die langbeenmeisiekind in die Mini was besonders, sy had die hele boeregemeenskap gaande. Stories oor haar het gewemel soos sy van die een deel van die distrik na die ander beweeg het – maar daardie stories het nie veel met haar wonderlike produkte te doen gehad nie.

Sien, dit was in die vervelige tyd net na minirokkies uit die mode geraak het. Dames het toe midi’s en die vader weet wat nog gedra, behalwe dat al die klere een ding in gemeen gehad het – die rokke was toe tot op die enkel. Dit was mooi, en vleiend, en grasieus, maar dis ook al.

Die meisiekind met die Mini moes ’n modebewuste dingetjie gewees het, want sy’t ook sulke rompe gedra. Sy moes egter ook baie naïef gewees het, want sy’t ’n ellelange spleet in haar romp gehad. ’n Spleet wat rêrigwaar eindeloos was – as ek reg onthou het dit hier hoog bo in haar kraag opgeëindig, maar Kees-wyfie sê ek onthou nie meer so goed nie.

Wat egter die spulletjie rêrig die moeite werd gemaak het, was die langbeenmeisie se vrees vir honde. Sy het nie op ’n plaaswerf uitgeklim nie totdat die boer (en beslis nie die boervrou nie) self die honde gekalmeer het. Nou kyk, ’n Mini is ’n baie lae ou motortjie, en daardie meisiekind se bene was baie lank ... en daardie spleet was baie hoog ... Teen die tyd dat die boer die Mini se deur saggies toegedruk het, was die dametjie se verkope baie verseker.

In ieder geval, terwyl ons nog in haar produkte geglo het, ’n maand of wat later, braai ons by Oom So-ja-hulle. Ek moes vir hom 'n waatlemoen uit ’n rondawel loop haal, en vra toe met die terugkom watse stapel onoopgemaakte bokse die hele plek daar so vol staan.

So ja! sê hy droogweg, hy weet nie eintlik nie. Dis ’n spul goed wat hy by daardie vrou van Kaapstad bestel het. So jaa!

’n Mens moet darem ter verdediging onthou dat daar altyd gróót Boerboele met net sulke breë koppe op die Bloemhofs se werf was.

Groetnis

Kees Bottersma

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top