Bokomo-brekfisbrief; 18/07/2010: Wit engeltjies met swart vlerkies

  • 0

Ek is geen engeltjie nie. Al lewe ek sewe keer oor en oor, sal ek steeds nie eers een veertjie het om as ‘n vlerkie te wys nie.

Vanmiddag ry daar ‘n well-used-aanmekaar-getimmerde-starter-pack voor my. Dit spoeg swart roet sover dit poer-poer. Ek dink dit ry meer op genade as op petrol. By die verkeerslig soos gewoonlik beman deur dieselfde swart kind met die hartseer oë. Maar hy’t vandag ‘n stop-maatjie by gekry. ‘n Wit jongerige man, seker nie ouer as 30 jaar nie. Soos gewoonlik ignoreer meeste hulle en staar eerder na die kar langs jou se rims. Die starter-pack driver se swart hand wuif die wit ou nader en handig aan hom ‘n R50 noot. Die wit BMW bestuurder langs hom roep die swart kind nader en maak die se handjie met kleingeld vol.

… en ek dink …

Maak dinge op die ou einde regtig saak? Of Malema nou “De la Rey” of “Meisie Meisie” sing met ‘n toi-toi jive, of Steve nou braai saam met Zuma en die Queen of England, of Selebi met of sonder ‘n voordeurwag of sleutel gaan bly – maak dit regtig saak?

Vet weet, daar is soveel onnodige dinge waarmee ander ons breinspoel. Soveel ekstra gewig word in ons lewensbagasie-tassies gelaai, dat ons nie meer normaal en lig deur die lewe kan wandel nie, en as alles te swaar raak om verder te dra, doen ons een van twee dinge:

-          Pak af en stagneer in ‘n wegkruipplekkie in die lewe.

-          Pak uit, laat onnodige dinge agter, en loop weer lig en gaan aan.

Maak dit regtig saak of jy staan, sit of kniel of selfs bestuur as jy bid? Wie is die om te sê jy glo nie, en is nie ‘n opregte Christen as jy dit nie sus of so doen nie?

Maak dit regtig saak of jou kind Engels of Afrikaans groot word? Wie is die om te sê hoe jy moet of nie jou eie kind groot maak nie?

Maak dit regtig saak of jy net vleis of net groente eet? Wie is die om te sê jy kyk nie na jouself nie?

Maak dit regtig saak of jy vir die ANC of die DA stem? Wie is die om te sê jy weet nie waarvoor jy jouself inlaat nie?

Maak dit regtig saak of jy die moer in is vir die monopoly-board-members wat 80 of 150% verhoging kry en terwyl jy geen verhoging gekry het nie?

Maak dit regtig saak of jy oordeel fel oor al die dinge wat so totaal onregverdig is in die lewe? Wie is die wat na jou sal luister en sê, ja jy is reg? Maak dit regtig saak?

Maar een ding wat vir my saak maak is hierdie wit engeltjies wat met swart vlerkies rondvlieg … ek dink soms dat die swart engeltjies soms heel beter met hul wit vlerkies tussen ons rondvlieg. Net jammer meeste is nog te kleurblind om dit raak te sien.

As ek nog eenmaal tussen wit engeltjie gesprekke moet luister wat na “hulle, die ander, die personeel” ens. moet luister en die degrading dinge hoor wat kwytgeraak word – terwyl hierdie engeltjies verwag dat jy outomaties met hulle sou saam stem … gaan ek regtig waar eendag my moer strip met lasterlike gevolge … net soos ek vandag gedoen het … omdat ek dit nie meer kon vat nie. Mens e is mense. “Ons” mag dalk die voordeel van geleerdheid en remote controls hê maar die vet weet “hulle” het baie meer wysheid en kennis van die opregte en belangrike dinge van die lewe en die essensie van die lewe as wat ons ooit sal kan leer. Want ons lewe in die verblinding van dinge wat nie regtig saak maak nie. Lankal nie meer nie.

Wat maak dan regtig saak?

Miskien is dit vir jou alles, en miskien beteken dit vir jou niks.

Ons almal pak en dra maar self ons eie tassies deur die lewe …

… en ek dink …

ek het ‘n vol tassie van onnodigheid by daardie verkeerslig vanmiddag agtergelaat …

Groetnis,

Sue

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top