Bokomo-brekfisbrief; 18/07/09: Baie geluk, Madiba!

  • 0

U is vir ons 'n groot inspirasie. Ons is trots op u. Ek wens u 'n wonderlike 91ste verjaardag toe en mag u saam met Graça, kinders, familie en vriende 'n gesellige en herinneringskeppende dag deurbring. Mag die nuwe lewensjaar geseënd wees.

Oor die hele wêreld vier mense u verjaardag omdat u 'n held is. Oral waar Suid-Afrikaners en Afrikane hulle vandag oor die wêreld heen bevind, sal 'n gedagte aan u 'n glimlag en blye herinneringe by hulle veroorsaak. Maar ook al die ander nasionaliteite vier u verjaardag omdat u die grootste staatsman van ons tyd is. U het met u lewe 'n voorbeeld aan ons gestel.

Toe ek die dag op Die Parade voor die Kaapse stadsaal staan en wag op u aankoms vanaf Paarl, saam met duisende mede-Suid-Afrikaners, het daar emosies deur my gegaan wat onbeskryflik was. Die onreg wat u aangedoen was deur my mense was aan die een kant so hartverskeurend hartseer; aan die ander kant het die verwagtinge wat u by ons almal wakker gemaak het, ons geïnspireer om met blydskap op u en ons toekoms onder u leiding te wag. U het aan ons verwagtinge voldoen en u plig en take as ons leier uitgevoer. U was die voorbeeld van rekonsiliasie en met die afwesigheid van bitterheid 'n voorbeeld aan ons, veral aan so baie my eie mense, wat tot vandag toe nog verstik in hul bitterheid en eenvoudigheid.

Saterdag dra ek net my T-shirt met u gesig daarop, eet ek 'n lekker stukkie melktert op u gesondheid, en hang my Suid-Afrikaanse vlag hoog en trots buite my huis. U foto word in die venster gewys aan alle verbygangers, en ek weet dat mense jaloers sal wees op my konneksie met die Groot Man van Afrika en die wêreld!

Afrikaan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top