Bokomo-brekfisbrief; 18/07/08: Wie kan die verhaal van Mandela vertel?

  • 0

Terwyl daar landwyd 'n Mandela-mania uitgebreek het oor Madiba se 90ste verjaarsdag wonder ek wie sou sy verhaal opreg kon vertel. Dié wat hom ken weet hy is plat op die aarde. Hy sou byvoorbeeld die eerste een wees wat sou weier dat Julie in Mandela-maand verander sou word.

Hierdie plat op die aarde houding het ook sy sekuriteitspersoneel in Londen onkant betrap. Terwyl hulle 'n kerk in Brixton besoek het, het hy ewe nonchalant besluit om pad af te loop en mense te groet. "How are you today?" kan ek die ou gryse hoor groet.

Net so op dié besoek het 'n ander Mandela na vore getree. Een van sy personeel moes inderhaas Suid-Afrika toe vlieg om sy gunsteling skeermeslemmetjies (Minoras) te koop. Die goed is nie in Brittanje beskikbaar nie. En hy wou skeer voordat hy vir Koningin Elizabeth sou ontmoet. Die sweep het geklap.

Ondanks die heldeverering is Mandela maar net 'n gewone mens wat angs, pyn, bitterheid en seer ervaar het. In die onlangse verlede was dit die dood van sy seun aan 'n Vigs-verwante siekte wat hom geskud het. Net so sy stap om van Winnie ontslae te raak.

Die pyn met Chris Hani se sluipmoord en Oliver Tambo se dood. Sy vertroueling op Robbeneiland, Walter Sisulu, is ook nie meer daar nie. Sy Long Walk to Freedom het ook letsels gelaat.

Maar wie sou die Mandela-verhaal kon geskryf het indien hy die geleentheid gehad het? Myns insien sou dit CJ Langenhoven wees. Veral omdat Mandela 'n groot bewonderaar van sy werke is en maklik uit sy boeke, soos Herrie op die Trêmspoor en Sagmoedige Neelsie. Die passie en blink oë waaroor hy oor Langenhoven praat, getuig daarvan dat hy 'n groot bewonderaar is.

Dan wonder jy hoe Langenhoven so 'n boek sou begin het. Dit sou inderdaad die maatstaf van hedendaagse geskiedenis gewees het.

Jy vind vertroosting deur te weet een van sy spreuke was:

"Soek om jou gelykes en jou meerderes te oortuig. Jou minderes sal jy onvatbaar vind.”

Dankie vir die goeie tye, tata. Veels geluk met jou verjaarsdag.

aYuri

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top