Bokomo-brekfisbrief; 18/06/08: Kom Rits: die verloorder se marathon

  • 0

Hulle is die naweek toe weer hier verby. Elfduisend van hulle. ʼn Semi-komatose mensegewriemel. ’n Mobiele beswyming.

Die Kom Rits is die enigste resies op aarde wat niemand wil wen nie. Of amper niemand, om darem nou regverdig te wees.

Ek ken ’n paar ouens wat gereeld deelneem. As jy hulle vra of hulle vanjaar gaan probeer wen, dan sê hulle nee, hulle wil net ’n bronsmedalje hê, of miskien ’n silwer. En moenie dink hierdie ouens vat dit ligtelik op nie. O nee. Hulle oefen pynlik en knaend ’n jaar lank om hierdie wedloop nie te wen nie.

Want op die ou end (sê hulle) sal ’n buitelandse atleet wat niks van die gees van die hele ding af weet nie, tog opdaag om eerste oor die wenstreep te hardloop. Veral ʼn Rus. Iemand sê vir my dis om strategiese redes dat hulle die Kom Rits nou op ʼn Sondag hou: hulle hoop die Russe sal kerk toe gaan. Maar selfs die Russe is gewone ou sondaars - hulle wil ook maar net ʼn geldjie hê.

Goed, laat ons skat dat daar sowat vyftig ouens is wat probeer wen. Die ander tienduisend negehonderd-en-vyftig rits net. Hulle weet die wentyd is vyf en ʼn half uur, maar hulle oefen net genoeg om elf uur lank te kom rits.

Ek het eenkeer ’n groot fout gemaak. ’n Fikse kollega wat baie hard geoefen het, het gaan deelneem, en toe ek die volgende dag op kantoor kom, staan ’n klomp ouens bewonderend om hom. Ek vra toe hoe‘t hy gedoen. "Twee-en-vyftigste," sê hy.

Ek kan nie verstaan hoekom hy nooit weer met my gepraat het nie. Want al wat ek vir hom gesê het, was "ag, ek is jammer, man!"

Die Kom Rits is inderdaad die onderpresteerder se resies. Alle verloorders kry pryse. ’n Honderdduisend mense spog vandag met ’n vertoonkas vol betekenislose medaljes om hulle daaraan te herinner dat hulle twee maal langer vat om ’n wedloop te voltooi as die wenner. Sowat ʼn honderd atlete (of hul nageslag) besit elkeen ʼn medalje wat bewys dat hy laaste was. Vir my smaak dit asof daar talle ander veel aangenamer vergeetlike momente in ’n mens se lewe kan wees.

Hieruit vloei allerhande twyfelagtige onderskeidings voort:

"Ou Koos, hoe‘t dit met die Kom Rits gegaan?"

"Ek het seweduisend tweehonderd ses-en-tagtigste gekom!"

"Jissie! Maar baie geluk, man!"

Mens kan dit natuurlik só sien: hy was eintlik eerste uit drieduisend sewehonderd-en-veertien. Uit al hierdie onderpresteerders was iemand (om vir Jerry Seinfeld aan te haal) op een of ander punt die beste van die verloorders.

Ekself moet elke jaar die ding gedoog, want hier waar ek woon, hardloop hulle byna oor my werf. Gelukkig vertrap hulle nie die sypaadjies nie, want geen hardloper draf mos ooit op ’n sypaadjie nie.

Party word op TV geinterview. Hulle wil eintlik net "hallo, ma!" vir die kamera sê, maar die meisie met die mikrofoon het ander idees.

"How was you preparation?" vra sy. "Nie goed genoeg nie", hyg die meeste, terwyl hulle proesend uit ʼn krip vol water opkom. Daar’s ʼn doel met die TV-meisie se vraag, want sy hoop die hardloper noem die naam van ʼn adverteerder se gesondheidsproduk. "Tell us about your preparation" wil sy aanmekaar weet. En 'n nuuskierige volk sit in spanning voor die TV om te hoor hoe ʼn gewoonte-verloorder hom/haar voorberei.

Een ou het halfpad tou opgegooi. Sy ouers het hom opgehelp en aangery na die sieketent waar masseuses van Wits almal se kuite en boude vrywe. "How was your preparation?" wil die interviewer van hom ook weet. Die kêrel is nie seker of sy gekskeer nie. Op hierdie oomblik wil hy net hê ʼn mooi Wits-meisie moet sy bene vrywe. Niemand hoef te weet hoe ʼn mens oefen om ʼn Kom Rits halfpad te hardloop en dan om te val nie.

ʼn Rus wen. Hy ken nie genoeg Engels om sy geheim aan die interviewer te verklap nie. Hy maak ʼn klein toesprakie vir die dertien Russe in Suid-Afrika wat patrioties voor die TV sit.

ʼn Vriend van my gee elke jaar langs die pad water vir die hardlopers aan. Ek vra vir hom of hy nog nooit lus was om saam te rits nie.

"Vir wat?" sê hy, "ek het mos ’n kar."

Swys (RusNet)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top