Bokomo-brekfisbrief; 18/05/09: Wat jy moet weet voor jou man jul badkamer oorbou

  • 0

 

 

Wanneer jou man besluit om jul 20 jaar oue badkamer te omskep in ʼn pragtige nuwe ene, hou net die volgende in gedagte. Die prentjie in sy kop is nie die prentjie in jou kop nie. Wanneer julle uiteindelik ooreenstem oor die kleur en algemene voorkoms, en opgewonde gaan teëls uitsoek, gaan dit wat jy wil kies óf te duur óf uit voorraad wees. Jy gaan die prentjie in jou kop en die prentjie wat jy dink hy in sy kop het, tweehonderd keer moet verander.

Dan sien jy presies dit wat jy gesoek het. ʼn Pragtige sandsteenmosaïekrandjie sal stunning lyk.

Jy maal die prys met die meters en nadat jy jou asem teruggekry het, fluister jy hees vir jou man: " Vierduisend rand! Hoe op aarde kan ʼn 6cm-randjie om die badkamer soveel kos?"

Die scenario herhaal homself soveel keer dat jou man jou nie meer wil saamneem winkel toe nie. Jy wil soos Oester dadelik die blikemmers wat besig is om jou in te doen, gaan aanvat!

Wyse man besluit hy gaan groot teëls koop en hulle in lang stroke sny, hy't dit iewers gesien en dit lyk tog so treffend. Hy koop ʼn teëlsnyer vir ʼn paar duisend rand, want hy spaar mos baie; hy doen dan alles self, dis mos maklik. Behalwe as elke tweede vrekselse teël chip wanneer jy dit sny. Onthou asseblief dat porselein anders as gewone teëls is, ʼn tweeduisend rand teëlsnyer werk nie.

Wanneer sy vingers deurgewerk is en die teëls tog te mooi lyk, prys hom oor hoe trots jy op hom is en moenie noem dat hy iemand se raad moes gevra het voor die tyd nie.

Wanneer jy badkamerkassies gaan soek, onthou net meeste van die maatskappye bestaan nie meer nie. Hulle is gelikwideer en as jy een in die hande kry, antwoord hulle die foon in Sjinees.

Die oproep vir ʼn kwotasie vir die stort verloop soos volg:

Ekke: Good morning, I want to find out if you can put a shower door in, if there is a glass brick wall on the one side?

"I am Chinese girl, can I help you?"

Ek herhaal die vraag.

"You must talk to Ju Nin."

"OK, can I please speak to Janine?"

"It is Ju Nin speaking."

Ek herhaal die vraag baie vriendelik. Dan vra ek: "Who can I speak to that will be able to answer my question?"

"You can speak to me. How can I help you?"

Ek wonder myself!

Ek het moed opgegee en bel ʼn ander plek. ʼn Baie vriendelike man vertel my dat as ek die glassteenmuur klaar ingebou het, dan sal hulle kom kyk of ek ʼn stortdeur daaraan sal kan vassit.

Ek het gereageer met ʼn paar byvoeglike naamwoorde wat Jelleke vir ons gegee het om te gebruik in die plek van vloek om mense se vlak intelligensie te beskryf, en toe die telefoon saggies neergesit.

Ek begin ʼn moderne oopplanstort sterk oorweeg. Dan sal ek ʼn verwarmer inbou.

Ek sal julle op datum hou met my stunning nuwe badkamer, maar ek dink ek moet gou Builders Warehouse toe, miskien het hulle verwarmers.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top