Bokomo-brekfisbrief; 18/05/08: Logika speel ʼn rol in geloofsake

  • 0

Hi almal,

Soos julle seker sal weet, is die eeue-oue stryd tussen goed en kwaad nog steeds aan die gang.

Gelowiges en ongelowiges se argumente het net in naam verander.

Slim wetenskaplikes is deesdae in hoofsaaklik twee kampe verdeel, sover dit die ontstaan van die heelal betref. Een groep glo basies dat daar ʼn Oerknal (Big-bang) was en dat alles daarna deur Evolusie (Darwinisme) verder gevorder het tot waar ons nou is. Hulle glo dus dat alles toevallig kon gebeur het. Die ander groep glo weer dat alles in die heelal net te ordelik en presies in mekaar pas om toevallig te kon plaasvind. Vir hulle staan dit vas dat die heelal ontwerp is deur ʼn Mag of Krag wat onnoembaar intelligent is.

Daar is een eienskap wat altwee groepe besit, wat met baie welslae gebruik kan word om te bepaal watter van die teorieë meer standhoudend is. Logika!

Kom ons toets dan of dit sin maak dat die heelal toevallig ontstaan het en daar geen God is nie.

Toevallig gebeur daar ʼn Big-Bang (sonder rede of oorsaak). Toevallig vorm daar planete, sterre en ander hemelliggame. Toevallig vorm daar ʼn aarde wat presies alles bevat wat nodig is om lewe te onderhou. Daar is minerale, edelgesteentes, plante en diere van verskeie soorte en elkeen se rol pas toevallig presies in plek. Die son en maan beland per toeval in presies die regte wentelbane en perfekte afstand van die aarde af, om die temperatuur te kan beheer en om die see se getye te reël. Toevallig wankel die aarde van kant tot kant teen presies die regte hoek om vier broodnodige seisoene per jaar teweeg te bring. As die aarde ʼn sekonde of wat vinniger sou draai, sou ons verys en andersyds ʼn sekonde of twee vinniger, sou ons verbrand.

Die aarde lewer toevallig vuil ru-olie op sekere plekke wat ons vir brandstof kan gebruik en dieselfde aarde gee vir ons koel, borrelende skoon waterfonteine om ons te verkwik. Toevallig bestaan daar gerieflike dinge soos elektrisiteit, radiogolwe, mikrogolwe, X-strale en magnetisme.

Toevallig is daar soveel verskillende frekwensies beskikbaar dat elkeen op aarde ʼn selfoon met ʼn unieke nommer kan besit. In alle eerlikheid is daar letterlik biljoene der biljoene toevallighede wat op presies die regte tyd en in presies die regte volgorde sou moes gebeur om die Big-Bang en selfs Evolusie waar te maak. ʼn Goeie voorbeeld om die punt te bewys is dalk ʼn rekenaar (PC).

Vra vir enige ongelowige of hy dit sal glo? Vat al die komponente wat nodig is om ʼn rekenaar te vervaardig, elektroniese komponente, plastiek, koper, sagteware ens, en plaas dit in ʼn krat. Skud die krat nou aanhoudend vir ongeveer ʼn honderd biljoen jaar en wanneer jy dit oopmaak, behoort daar ʼn kompleet rekenaar in te wees? Met muis, sleutelbord, hardeskyf en programme wat volledig geskryf is en al die funksies "toevallig" reeds werkbaar opgestel!

Selfs ʼn "ongelowige" sal hom/haar dit baie moeilik kan indink dat so-iets kan gebeur! Tog glo hulle dat iets wat miljoene male meer onmoontliklik sou wees, toevallig (vanself) kon plaasvind!! Hoekom?

Want hulle (ongelowiges) hoop eintlik dat daar nie ʼn God is nie, want hulle wil nie onder Sy gesag staan nie. Daar is ongelukkig nie ʼn middeweg nie. Jy is vir God of teen Hom. Deur God se bestaan te ontken sal niks help nie. Ek dink ʼn mens kan dalk meer respek voel vir iemand wat erken dat hy teen God is, as vir ʼn draadsitter wat te lamsakkig is om kant te kies.

Alle EER aan GOD die ALMAGTIGE SKEPPER van die heelal en alles wat daarin is.

Christen-groete.

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top