Bokomo-brekfisbrief; 18/04/09: Wangedrag by sportbyeenkomste

  • 0

 

 

Vandag se jongmense word erg gekritiseer oor hul gedrag of wangedrag by sportbyeenkomste. Die geskiedenis herhaal homself maar net.

Ek het reeds in 'n brief genoem dat ek in Durbs by die see gewoon het. Natal het destyds in die B- afdeling van die Curriebeker gespeel. Ek en 'n pel van my het so gereeld soos klokslag gaan rugby kyk. Dan is daar so drie tot vierduisend toeskouers op die pawiljoen wanneer Natal teen bv Suid-Westelike Distrikte, Stellaland en Noord-Kaap speel. Na die tyd was daar tienduisend op die buitevelde aan die braai en suip, ek en pel inkluis.

Die rugby was in elk geval so eentonig dat ons onsself maar vermaak het. Ons het nooit baklei nie, maar wel kak gesoek. Sy vrou het een aand gevra hoekom ons so laat tuis kom. Hy het net gemompel dat ons vlagmanne was.

Daar het mos 'n storie geloop van 'n klomp boere uit die verre Noord-Transvaal wat vir 'n rugbytoets Durban toe is. Hulle het die Saterdagoggend in Durban aangekom, hotel toe gegaan, gestort en besluit om 'n bietjie te gaan skuinslê voordat hulle Kingspark toe sou vertrek.

Een ou is toe afgevaardig om nie te slaap nie en om die ander ouens so teen twee-uur wakker te maak sodat hulle kan vertrek. Nodeloos om te sê, het almal so teen vyfuur die middag wakker geskrik sonder dat hulle ooit by die rugby uitgekom het.

'n Ander storie wat wel waar is, is van 'n oom wat ek geken het wat ook so 'n naweek van brassery en dronkenskap meegemaak het, toevallig ook in Durban. Hy het met 'n sigaret in die hand op die bed aan die slaap geraak. Hy moes die skade in die hotelkamer uit sy eie sak betaal.

Ek gaan nie sonder toesig rugby toe nie. (Huidige vrou se werkgewer het 'n losie.) Ek mag nie alleen Loftus toe gaan as ek nie in die losie gaan sit nie.

My gunstelingstadion is Kingspark. Daar sien jy darem die ou wat jou wil moer. Hier op Loftus moer almal jou. Niemand het my hier nog in die gesig geslaan nie, want ek kyk nie om as ek hol nie.

Snaaks, die ouens op Loftus het nie juis 'n sin vir humor nie. Ek skree net vir twee spanne - die Sharks en almal wat teen die Bulle speel. Saterdag teen die Cheetahs het ek op hulle geskree, soos ʼn dronk huiswerker wat haar buskaartjie verloor het. (Dis darem stront hierdie polities korrekte drek.)

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top