Op ouderdom 40 was ek Oppikoppi toe (vir die eerste keer) ... nou, op 45 saal ek toe weer ’n wilde perd op ... ’n wilde ysterperd om presies te wees (BMW 650 GS ... nou al ’n paar duike ryker en een flikker en spieëltjie armer). Ietsie in kort oor my epiese toer deur Afrika – 2000 km later en ek was behoorlik vodde! Let wel, ek het die ding gekoop en die volgende dag opgeklim en gery (darem met ’n leerlinglisensie). Nogal stresvol (understatement) om ’n 200 kg plus motorfiets met my 65 kg (plus?) deur al die pothole-paaie en heininglose Afrikastatjies te navigeer. Om nie te praat van die sterk winde, die lorries van voor en agter, die taxis wat geen reëls ken nie, die terroriste wat mens wil besteel as jy iewers stop en dan natuurlik al daai sinkplaat off-road paaie vir 100e kilometers om draaie, deur sand en water en klippe ... Die ergste was egter die bergpasse wat so toegemis was, mens kon nie jou hand voor jou oge sien nie, die pad is nat en snotglad en vol haarnaalddraaie en die reën stort neer op jou visor wat sig bykans helemaal onmoontlik maak, dan is jou lyf boonop styf gevries en nog stywer gespan soos ’n snaar van die stres ... O,magtag! Volgende keer vat ek net kort trips 🙂 Die aande om die kampvuur maak alles natuurlik die moeite werd (wel, amper) – lekker gestort met ’n wyntjie in die hand kan mens mos maklik van jou sorge vergeet – en na aand drie het ek vir my nog ’n ekstra Pep-kombersie gekoop om myself in toe te rol want die tentjie kon nie die bittere koue juis uithou nie. En natuurlik is daar niks wat naby die gevoel van vryheid kom as mens so een word met die natuur en die pad en die reuk van Afrika in jou neus nie.
Dag 5 het my bike se radiator opgepak van al die kere wat ek geval het en deur gate gejaag het en toe moes ons een van die local boere vra om ons met fiets en al terug te vat dorp toe met ’n bakkie, ek agterop wat klou aan my bike vir ’n vale sodat die ding nie omval nie en die boer wat 100 myl ’n uur op die stamppad jaag asof sy lewe daarvan afhang! Bliksem! Kon toe darem die radiotor met ’n boer-maak-’n-plan-plan regtoor ... En daar gaat ons weer ... Cathcart, Grahamstad, PE, Humansdorp, Joubertina, Uniondale ... De Rust ... Toe ek uiteindelik voor die huis stop het ek gou nog vir oulaas op die klippe geval en ’n ekstra blou kol by al die ander gevoeg. All in all sal ek erken ... dit was hel, maar ek sal dit weer doen! Die slegte maak altyd die goeie net soveel beter? Ek is nou ’n biker ... Nie net ’n agteroppie nie!
Karin


