Bokomo-brekfisbrief; 18/03/09: Vrou met die wiel

  • 0

 

 

Ek het op die internet afgekom op jou ervaring van die vrou met die wiel op Winburg.

Ek was 22 jaar predikant op Winburg en ek het nooit enige storie van 'n "spookvrou" of iets gehoor nie. So, om jou gerus te stel óf verder deurmekaar te krap, Winburg het nie 'n spookvrou nie. In elk geval nie wat ek van weet nie.

Wat natuurlik ook waar is, is dat daar waar jy die motor sien verdwyn het, is daar 'n smal straatjie, nl Wilcockstraat, wat na links afdraai. Waarom sy daar sou afgedraai het, kan ek nie dink nie. Daar is 'n paar woonhuise.

Ek is al 'n paar jaar weg uit Winburg en mense word ouer en nuwes trek in, maar as jy kan onthou of die bakkie donkergroen was, dan weet ek wie dit was. Darem nie 'n spook nie.

Jou ander wedervarings met die foto's ens klink baie vreemd en laat mens tog wonder wat aangaan. Ek sal graag dit wou sien.

Winburg het nie regtig baie spookstories gehad nie. Baie ander stories wel, maar ek het nooit regtig spookstories gehoor nie. Tog is sulke stories altyd interessant om te hoor en dikwels is daar 'n doodeenvoudige verklaring daarvoor, maar totdat 'n mens dit ontdek het sal jy bly wonder: Was dit ek wat my dalk verbeel het of was dit dalk 'n spook. Die heerlikste is as jy later kan ontdek dat daar 'n verklaring voor is en jy twee en twee bymekaar kry.

Wat jy sal geniet om te weet is dat die vervalle gebou met die boom in, die ou Fords Hotel was. Die een muur van die eetsaal was nog die oorspronklike muur van die eerste Raadsaal van die Vrystaat. Die hotel het geblom terwyl die destydse N1 gebou is en die kontrakteurs dit ondersteun het, maar mettertyd het dit agteruitgegaan en toegemaak. Iemand het dit gekoop en het onderneem om dit af te breek. Hy het net die waardevolle hout uitgehaal en toe verdwyn en die plek vir Winburg as murasie gelos. Sedertdien het rompslomp meegebring dat die plek steeds aan niemand behoort nie en is dit die publieke toilette en seer oog van die dorp. Die veld waardeur jy gestap het was eens die mooiste tuin met pragtige roosbome. Danksy die huidige munisipaliteit is dit soos jy noem, 'n stuk veld in die middel van die dorp.

Ek vermoed jy moes so strompel deur die munisipale ruveld in die middel van die dorp dat jy nie mooi na die ou stadsaal kon kyk nie. Die idee was destyds dat dit 'n ossewa simboliseer. Die saal is dan die wa self, die sysaal en ander kantore links en regs agter, was die groot wiele van die wa terwyl die kleiner "punte" voor, naamlik die toilette, die voorwiele is. Die halfmaan van die stoep voor is die "skamel" waaraan die disselboom kom en wat natuurlik die wa draai. Wat die disselboom is weet ek nie. Binne in die saal is enorme groot skilderye van tonele uit die omgewing wat jou 'n goeie idee gee van hoe die wêreld destyds gelyk het.

Dit was lekker om van jou wedervarings te hoor.

Nee, ek glo ook nie in spoke nie maar geniet altyd 'n lekker storie. Dankie vir jou storie. Is dit regtig belangrik of dit waar is? Neem die Tandemuis en feetjies van ons kinders weg en hulle het net die TV oor. Neem die spookstories uit ons geskiedenis uit en jy ontneem ons voorgeslagte van heerlike aande om die tafel.

Al glo ek nie in spoke nie glo ek jou storie, want ek is te oud vir die ding oor die Tandemuis.

Groete

Andre Lubbe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top