Kgotso Mme, le kae? (Vrede, Moeder, hoe gaan dit met julle?) Let op die hoflikheidswoord le kae, nie o kae nie? Julle, nie jy nie, want dis te familiêr. Die feit dat jy oor almal uitvra, toon respek.
Liewe mooi mense, die wete dat ‘n swart mens van enige etniese groep jou genoeg respekteer om jou as Mme (moeder, mevrou, ma), Ma (moeder) Sisi ( suster, van een volwasse vrou aan ‘n ander, albei het kinders, Ausi (dit beteken ouer suster), Gogo (ouma in Zoeloe) of , Nkgono (spreek uit N-goenoe), Ouma in seSotho) aan te spreek behoort vir jou ‘n vreugde te wees. As hulle dit nie doen nie, praat hulle van jou as Mosadi Maburu (boervrou), Mosadinyana (veragtelike klein vroutjie) of sommer net as Tweba (muis), of Leguan (Likkewaan)!
In die swart kultuur word daar lank besin oor ‘n erenaam vir ‘n wit kind. Die huiswerker en haar vriendinne kyk die baba eers vir ‘n paar dae uit, met baie fluisterings en laggies en weer fluisterings. Dan kom hulle plegtig voor jou staan. Kgotso, Mme. (Vrede, moeder, ma, mevrou). “Die bybie, sy naam hy es Ramatlale. Die een, hy werk goed met die hande, Ee, Kilebohile, Mme.” (Ja, baie dankie, moeder.)
Nou verduidelik hulle vir jou wat Ramathlale beteken, hoe die kind eendag sterk gaan wees, en goed met die hande werk, want die handjies is sterk, die longe is goed, die kind eet en slaap goed, en hy sal in staat wees om sy lewe met sy hande te maak. Dan word die ketel aangesit, hulle het klaar hulle bekers en koppies (en glase) saamgebring, en die kind se naam sal nou uitgedrink word. Almal sit gesellig saam in ‘n kring, die ouer Mamas wat nie grond toe kan gaan nie kry stoele, en die tee (nooit koffie nie) word gemaak, en die groot pak koekies wat jy lank voor die tyd aangeskaf het, uitgehaal en voorgesit. Een Sotho-Mama het onder groot gelag vir my met my seun se naamgee ewe ghrend gesê “Makoti, ke batle di Iel Gri.” (Bruid, ek soek die Earl Grey) . Ek het saam gelag, opgestaan en die Earl Grey teesakkie vir haar gaan haal. Sien, sy het by die burgemeester se vrou gewerk en hulle drink net Earl Grey … nie sommer plaastee nie! En dan, die afsluiting. Buks kom in, groet “Middag, dames, ‘n iertsie vir julle? Die bekers en glase word almal vorentoe gestoot, en boordensvol gevul met ‘n goeie brandwyntjie sonder mixer, die dames drink lankal ook nie meer bokswyn nie …Dit vat twee bottelsvol van Morgenzon se bottelstoor se beste, en dan begin die tog huiswaarts vir die dames. Die kind se kop is natgemaak, en almal kan gaan eet en slaap ...
My oudste seun is op die plek Mafoeta gedoop, al is hy vandag so skraal soos ‘n riet, want hy was ‘n vet seuntjie-babetjie wat die Zoeloe Ma, Martha Mbatha verheug het deur alles te eet wat sy hom gegee het terwyl ons skoolgehou het. My dogter is Thabile, wat eintlik vriendelikheid aandui, maar na so ‘n jaar het die groep weer nader gestaan. “Ee, Makoti, darie ene, darie Thabile, sy short die nuwe naam, sy’s gan die Thabile nie, sy kop hy is te rooi Hy slat en hy skree en hy is banja, banja slim, darie ene!
So het Thabile, die vriendelike enetjie, Moriri o Chilli geword, die een wat brand by die kop. Hare soos Chillies, en ‘n bekkie en humeur om daarby te pas. ‘n Aan die brand meisiekind. Weer het Ntate Begs die bottels knalwater gebring, en die bekers is weer boordensvol gemaak, ‘n triple ten minste. Die blitsende vuur van die gilrooi krulhare is geblus, en die dames se koppe het ‘n salige buzz van “o ntate Begs” (Meneer Buks) se vrygewige versterkwater gekry. Ek sit die rooikop merrie in die bed, en vra “Is daar nog van die dames se knertsie?” Nee,” lag Ntate Begs (Meneer Buks) en sluk sy eie dop met water en ys, terwyl hy die Earl Grey-teesakkies na my toe uithou. “Kry vir jou,” lag hy, en gaan kyk na die slapende Moriri o Chilli. “Dat soveel storm en drang so soet kan lyk,” fluister hy verwonderd Hulle was perfek reg. Moriri o chilli gaan goed aan!
Die grootste voorreg, egter, is om deur kollegas aanvaar te word en ‘n ere-naam te kry. Ek was ‘n snuffeltiffie (militêre intelligensie) vir die SA Nasionale Weermag en Seuns, amptelik toespraakskrywer, maar met ander take ook, soos taalfasiliteerder en militêre etiek lesingskrywer vir al die nuwe MK en APLA soldate. Die Umkhonto we Sizwe soldate (MK), het my een dag in die menasie voorgekeer, tydens teetyd, en doodstil in ‘n kring gaan staan, met my in die middel. Soos een man het hulle uitgeroep: “Mmamosa! Mmamosa! Mmamosa!”, ‘n flink omkeer gemaak, en uitmekaar gestap. My naam is gegee. Mmamosa, Moeder van Vriendelikheid. Naam van die Koninginmoeder, Mmamosa, omdat ek vir hulle alles gedoen het, en ‘n Moeder van Vriendelikheid was, ongeag of dit ‘n terroris in andere se oë was … As mens vir ‘n onbekende persoon sê “Ke Mmamosa, wena o mang? (Ek is Mmamosa, wat is jou naam? (eintlik jy is wie?) verander hul hele houding onmiddellik. Jy is Mmamosa. Jy dra ons Koningin se naam ...”
So, mooi mense, aanvaar die Ma, die Mama, die Mme, die Gogo, die Nkgono, met dank en eerbied. Dis soveel beter as Tweba of Maburu!
Mag jou beker altyd boordensvol bly van die goeie water.
Mmamosa xxx


