Bokomo-brekfisbrief; 17/11/2010: Vrouekrygers

  • 0

Myse Liefie is op die oorlogspad. So in die algemeen. Dit gaan oor die regering, die bure, die honde en ek. Nie dat dit belangrik is nie, maar ek verduidelik maar hoekom ek hierdie stukkie skrywe.

As sy bedonderd is, vlug ek en die bulhonde na my kantoor. Dis die enigste veilige plek vir ons in die huis. So maak ek my tuis. Die bulle sug aan't slaap en ek gooi 'n dop. Bekyk ek my boekrak en trek een van my ou boeke nader. Hillegas se beskrywing van sy wedervaringe saam met die burgers tydens die Oorlog. Julle weet mos watter ene. Siende nou dat daar oorlog in die huis is, reken ek ek moet maar oor oorlog besin. En veral besin oor die rol van 'n paar merkwaardige vrouekrygers tydens die oorlog

Hillegas vertel effe dramaties van vrouekrygers wat langs die liggame van hulle dooie seuns en mans geveg het. Dat die vroue gedreig het as hulle manne te bang was om te veg, hulle en hulle dogters die wapen sal opneem.

Op 28 Februarie sterf 'n negentienjarige meisie aan haar wonde by Pietsekoppe. Die sterwende vrou vertel hortend aan die Kakies dat sy saam met haar man geveg het. Hy is enkele minute voor sy getref is, langs haar doodgeskiet.

Bekyk ek die foto van mev Otto Krantz. 'n Aantreklike meisie. Maar met 'n moeilike kyk in die oog. Nogal gedress ook. Lang swart rok, burgerhoed op die kop en 'n liederlike Mauser op haar heup. Sy veg. En nie so van 'n afstand nie, maar neem deel aan die slag van Elandslaagte waar van die wreedste hand-tot-hand gevegte plaasgevind het. Sy veg al langs die Tugela af en later in die Vrystaat.

Helena Wagner wat in die Ben Viljoen Kommando diens gedoen het. Let wel, sy het nie kos gemaak of pannekoek bedien nie. Sy het in die loopgrawe saam met die burgers bomme, koeëls en liddiet by Spioenkop, Pontdrift en Pietsekoppe trotseer. En na vertelling het sy menige Kakie laat bontstaan met haar akkurate geskiet.

By Colesberg is drie gewapende meisies gevange geneem. Die Kakies het eers in die Kaapse hawe, weke na hulle gevangeneming, besef dat die jong vroue in mansklere nie jong seuns is nie. 'n Vyftigtal vrouekrygers het saam met die burgers die beleg van Paardeberg (Cronje) trotseer.

Generaals Botha, Boshof en Reitz se vroue skryf formeel aan die regering en vra dat vroue bewapen word.

En hoekom vertel ek dit? Maar net om te verduidelik hoekom ek in my kantoor wegkruip. Mens sukkel nie met 'n bedonderde Boermeisie nie.

(Bron: HC Hillegas. 1901. With the Boer Forces.)

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top