Soms breek ons oor naweekaande sommer net uit na 'n lekker pub toe sodat ons nie heelaand by die huis hoef rond te hang nie. TV is nie 'n opsie nie daar ons die laaste TV ongeveer tien jaar gelede weggebring het na die recyling sentrum toe omdat ons gedog het dat dit die gees gegee het. Die sneeu op die beeld het egter te doen gehad met 'n foutiewe bedrading van die Kabel TV aansluiting. Dit het ons ongelukkig eers uitgevind toe ons daar uitgetrek het en die nuwe huurders lont geruik het dat dit nie aan hulle TV kon lê nie, maar 'n ander oorsaak moes hê. Sedertdien het ons nog nie weer 'n TV aangeskaf nie en mis dit ook nie juis nie. Dis net altyd as die sokker seisoen kom wat ons wonder of ons nie tog maar weer 'n TV moet aanskaf nie, want nou is ons aangewese op pubs in die omgewing. Dis ook lekker om saam met ander voetbal te kyk, want dis 'n totaal ander atmosfeer as die fans spontaan begin sing.
So 'n paar weke gelede is ons ook saans hier uit, en gelukkig is die moltrein-stasie ook sommer net om die hoek, sodat mens gerus die kar kan laat staan en nie die biertjies of wyntjies so presies hoef te tel nie. As mens hier met meer as 0,5°° in jou bloed gevang word, is jou lisensie sommer weg vir 'n maand. In die geval van ernstige oortredings kan dit jou sommer 'n boete van 'n maand se salaris kos en jy kan jou boon-op lisensie kwyt wees vir 'n jaar. En dan word nog verwag dat jy dan ook 'n verpligte kursus bywoon by 'n rehabiliterende psigiater oor die gevare vir die gemeenskap waaraan jy hulle blootstel met dronkbestuur. So, dis nie grappies as jy wil wegbreek na 'n pub toe vir 'n paar biertjies en 'n lekker aand nie - altyd beter om te voet te gaan, of die moltrein of 'n taxi te neem.
Nou ja, by die laaste geleentheid is ons sommer saam weg met die oudste wat op pad was om sy vriende vir die aand te ontmoet in die Bermuda Driehoek en ons dog toe, dit kan mos ook vir ons pret wees - natuurlik nie in die uitgang plekke van die jongklomp nie. Ons ontdek toe 'n lekker Meksikaanse kuierplek waar ons ook sokker kon kyk terwyl ons 'n bord met spareribs deel. Die aand was nog jonk, en later sak ons die straat af na 'n pub toe waar daar 'n helse goeie stemming geheers het.
Hoewel rook deesdae verbode is in openbare eetplekke en pubs (by dié ene kry jy hoogstens grondboontjies) moes jy eers jou oë instel om deur die walms die mense behoorlik te kon. Donker houtmure vol herinneringstukke van pubs uit Ierland, België en Frankryk. Lae plafon, talle hoë ronde tafeltjies met kroegstoele en hordes mense wat druk in gesprek is. Maar dit wat dié pub uitsonderlik maak is die musiek. Agter in die hoek teen die toonbank waar die bier getap word sien ons nog twee vrye plekke en koers daarheen, hang ons jasse op en bestel twee Pils. Ons kyk hoe die goue vloeistof wit in die glase skuim en oorloop, eenkant neergesit word totdat die skuim afsak, volgende rondte. Vyf of ses keer word getap voordat die kroon perfek staan op die bier, dan kom die servetjie onder om die boom van die glas. Die tapper sit jou bietjie neer op 'n nuwe Bierdeckel en maak twee strepies op die karton sodat hy kan weet hoeveel biere ons teen die einde van die aand voor moes betaal.
Intussen bekyk ons die bedryf om ons en besef vir die eerste waarom die musiek ons ingelok het. Waar in 'n normale pub die glase ingeryg sou gewees het om die drankies in te skink, staan hier 'n reuse versameling van outydse langspeelplate - seker goed 400 plate. Direk voor ons oë is die eienares van die pub wat die ding doen. 'n Vrou van midde-vyftig, blonde hare wat aan die grys word is, opgesteek op haar kop, sexy jeans, en wit linne hemp. Voor ons dangle 'n Jägermeister ligketting van harte met 'n pulserende oranje wat aan en af flikker. Al wat die vrou doen is om telkens haar leesbril wat aan 'n goue ketting om haar nek hang op haar neus te sit, met presiese doelgerigtheid iewers in die rak 'n plaat raak te vat, en te kyk watter song sy volgende gaan speel. Voor ons staan twee indrukwekkende platespelers van die allerbeste kwaliteit, direk agter ons is luidsprekers gemonteer wat sommer baie geld moes gekos het. Dis duidelik dat ons op 'n plek geland het waar iemand aan roer van sake is wat 'n passie vir musiek uit die laat 1960's tot 1980's het, en dit reflekteer ook ongeveer die gemiddelde ouderdom van die mense in die pub. Dis die musiek uit 'n tyd toe hulle jonk was en dit lyk asof hulle tyd verplaas en 'n reis terug in die verlede maak. Dis hoofsaaklik rock en pop, maar 'n uitgelese keuse. Een ou agter ons begin dans en vertel ons dat hulle gereeld hierheen kom omdat dit die laaste van sulke pubs is wat nog die moderne oorleef het. Vroeër was daar blykbaar dertig sulke pubs in die Bermuda Driehoek, maar dis die laaste een wat die moderne trends weerstaan het. Af en toe skink die vrou vir ons nog 'n biertjie in en kry ons nog twee strepies by.
En so kom ons toe vol heimwee teen middernag weer by die huis en besluit om volgende keer 'n paar pelle saam te vat. Ons maak 'n date vir Saterdagaand, maar soos die voorsienigheid dit wou hê, val iets voor by almal sodat ons besluit om liewer die afspraak na volgende naweek te verskuif. Ons gaan nietemin. En dit was sekerlik 'n bestiering.
Toe ons daar instap, kom ons dadelik agter iéts is anders. Die eienares was nie daar nie - seker haar af naweek gewees. Iemand anders soek die musiek uit, en hy speel CD's. Ons kry nie plek aan die toonbank nie, en koes verder na die ander hoekies verder agtertoe waar daar minder gerook word. Twee tafeltjies is vry, en ons gaan sit by ene. Daar is nat blertse oor die tafel en grondboontjie krummels van die wat voor ons daar gesit het. Ons bestel twee Pils en vra dat die kelnerin net asseblief die tafel moet afvee as sy weer kom. Normaalweg is dit outomaties deel van die diens. Na 'n wyle bring sy die twee biere, plak dit voor ons neer en verlang €5,40. Ons kyk mekaar bietjie stomgeslaan aan, want gewoonlik kry jy net 'n strepie op jou Bierdeckel en betaal as jy loop. Ek sien hoe die Duitser langs my hom gruwelik vererg, maar hy haal nogtans sy beursie uit sy gatsak, maar sê, hy sal betaal - maar nie voor die tafeltjie skoon is nie. Sy kyk ons snotty aan en sê ,"Nee, eers betaal julle." Ons wag stoer dat die tafeltjie eers afgevee word. Toe sy sien ons gaan nie budge nie, gryp sy die twee biere en sê, "Nou in daai geval kry julle geen bier nie!" en stoom daar weg. Dit was sekerlik die laaste keer dat ons daar was, en die grootste gatslag van die Bermuda Driehoek.
Ek bly nou al amper 25 jaar lank in Duitsland en dis die eerste keer dat ek so iets belewe het.
Krautie


