Bokomo-brekfisbrief; 17/09/2010: Mossie (L,P)

  • 0

Rietskraal. Woeste bosbaard. Dik are op die arms. Klein hoedjie op die kop.

Die eerste keer wat ek hom gesien het het hy nog so 'n vaal Valiant gery. Die mense vandag kyk neer op 'n Valiant, maar die wat hulle gery het sweer by hulle. En hul ratkaste. En die aanmekaar voorsitplek. Hulle sê dis steeds een van die beste motors ooit gemaak. Ek wetie, want ek glo maar aan 'n Hilux. En daai driepuntster Duitse voertuig.

Bitter min mense ken sy geboortename. Ek ook nie. Het hom eendag gevra toe wou hy weet wat dit met my uit te waai het. En toe los ek dit maar. Maar ek weet hy kom van doer bo van Marico se wêreld af. Het by die Koöperasie gewerk. Tot die ongeluk. Hulle sê hy was lank in 'n koma en het nie dieselle mens daar wakkergeword nie. Het van toe af gesukkel met reken en sulke dinge. Moes toe maar die pad vat Suid. Want die Koöperasiemense konnie sit met 'n man wat, soos ek sê, nie kan reken nie. Hulle boeke, sien.

En so het ek vir Mossie hier leer ken. Hanne vorentoe as hy stap. Die stap so voetelig-tipe van en sy ou velskoene sonder kouse. Of soms met sy Mosesplakkies aan met die tone wat verby die trappers die grond wil-wil vasvat. En sy Grandpas. Want hy gaan deur 'n paar pakkies 'n week. Eet die goed soos meisies op streng diëte tjoklits eet. Sommer so sonder water. Ek het hom al beduie wat die goed aan sy maag en lewer en ander organe doen maar hy is heel filosofies daaroor: "Dood moet ek dood", so ek los hom maar. Snaaks genoeg, hy weier om los Grandpas te koop. Blykbaar het die boksie se koevertjies meer in. Ek sallie wetie.

Leer ken as 'n meester met 'n grassnyer. En gras sny. Hy is wyd bekend dat hy billik en deeglik is met sy petrolgrassnyer en "weadeater". As die ding breek haal hy hom sommer gou uitmekaar en sommer gou is die ding aan die gang, piston en ringetjies en bearings vervang, die lot. Soveel so dat almal wat nie genoeg geld het nie hul stukkende goed maar vir Mossie bring. En hy maak maar reg en vra niks.

Jare lank kroegman gewees eers by die poliesklub tot Brinkley’s hom afgerokkel het. Maar die laatnagte het nie gedeug nie. Nog minder sy lewer, want Mossie kannie nee sê as 'n dronklap kroegvlieg 'n dop wil koop nie. Annerdag hoor ek die poliesmanne wil hom terug hê want die boeke klop nie meer so lekker nie. Want Mossie kannie iemand verneuk nie. Moet altyd eerlik wees.

En dan was daar die vrou. Nee, nie sy vrou nie. Annerman se vrou. Of so loop die gerugte. Hier kom intrek by 'n ou man met 'n jonger vrou. Ou man wat versorging nodig had en nie self die nodige versorging kon bied nie. Of so sê die wat weet. Ou man later oorlede met goeie pensioen. Weduwee wat al klaar vir jare vir twee mans sorg, wie weet? Mossie se pensioen help darem om die gate toe te stop.

Annerdag kom wys hy vir my die speenvark wat hy nou hans gaan grootmaak. Ek beduie hom van hansgoed en die nare gevoel as dit by slagtyd kom. Vark was later soos 'n kind wat soos 'n skadu agter Mossie aangeloop het. Net Mossie kon hom hier agter die oor krap anders byt die ou. Tot die dag wat Mossie kom vra of ek vark na Andries toe sal vat. Want speenvarkie issie meer 'n troetelvarkie nie, maar Krismis se feesmaal. Om te loop slag. "Jammer, Mossie, dit kan ekkie doenie. Jy kan my bakkie vat en self ry, maar ek kannie hom in die oe kyk nie. Die bleddie ding is dan al soos familie, man!"

En so is vark al skreeuende hier verby. Ek vermoed hy't geweet wat aan't kom is ...

Hy kom vra so 'n dag of drie later of ek hom gou sal vat hy wil op plaas se kant toe. En laat my afdraai en stop by die koelkamer waar einste vark met sulke half toe ogies, baie soos 'n dooie mens, daar hang. Gelukkig eet ek nie vark nie (te naby aan mens, sien) en kon die aanbod van 'n paar varktjoppies ferm van die hand wys.

Mossie moes nou die dag hard timmer om vir die nuwe generasie 'n huis op te slaan. Want, so beduie sy: Dinge raak oorbevolk in die ou huis.

En toe wonder ek weer oor die gerug wat al vir baie jare rondloop agter bakhande. En of die weduwee se geduld nie maar aan't opraak is nie. Mossie sê niks, sluk net sy grandpa en sorg maar.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top