Bokomo-brekfisbrief; 17/09/09: Nog 'n perspektief op die matriekafskeid

  • 0

Ellen en Ryperd se interessante skrywes oor die matriekafskeid het my laat besef ek het nog ‘n perspektief om by te voeg.

My jongste dogter is vanjaar in matriek. Ons swem dus ook op hierdie einste oomblik in die maalstroom wat die aanloop tot die hele okkasie is, maar eintlik is ons baie ontspanne daaroor. Julle sal weldra verstaan hoekom. Ek moet darem bysê dat ek die leisels styf vashou, en streng (probeer) hou by begrotings en voorwaardes.

Ek het egter ‘n groot probleem met die beleid van skole dat metgeselle van buite die skool genooi mag word. Dit kan dinge op vele vlakke geweldig kompliseer. So is my dogter byvoorbeeld in haar gr 10 jaar deur ‘n seunsvriend genooi na sy matriekafskeid. Gelukkig het sy nee gesê. Verlede jaar was ek egter nie so gelukkig nie. Sy is weer deur ‘n vriend van ‘n ander skool na sy afskeid genooi, en het toe ja gesê. Toe begin hierdie hele rigmarole van regmaak en kostes aangaan vir ‘n matriekafskeid wat nie haar eie jaargroep s'n was nie.

My eerste reaksie was natuurlik om eers ‘n prekie af te steek, iets in die lyn van: Onthou jou afskeid is volgende jaar, ons kan nie nou ‘n klomp geld spandeer en volgende jaar weer nie, so ons gaan nie ‘n duur rok koop nie. Dit was veel makliker gesê as gedaan. Ons was naderhand óp gesoek na ‘n billik-geprysde rok. Tussendeur het die ongemaklike gedagte ook bly knaag dat dit nou wel nie my dogter se matriekafskeid is nie, maar dit was tog die jongman s'n, en hy verdien nie ‘n "afskeep-metgesel" vir die aand nie. Twee weke voor die afskeid was ek behoorlik op paniekstasie. Daar was nêrens ‘n rok met my kind se naam daarop geskryf nie.

Toe vind ons haar. Die Rok. ‘n Prag-skepping, maar een met ‘n hogere prysetiket. Ek kon madame Rok glad nie bekostig nie, maar sy was absoluut perfek. Vasgevang tussen die duiwel in die matriek-see en ‘n hartvermurwende skepseltjie ín die skepping, moes ek toe ‘n keuse maak: bank-breek, hart-breek, steel of budget account?

Die budget account het gewen nadat ons ooreengekom het dat ek die rok sal koop op voorwaarde dat sy dit hierdie jaar na haar eie matriekafskeid ook sal dra. Niemand by haar skool weet mos hoe lyk die rok nie.

So, hier is ons nou ‘n week voor kindlief se regte afskeid. Sy het ‘n lieflike rok en alles wat daarmee saamgaan, en al die onkoste aan die matriekafskeid het ten goede vir ons halveer. In ons spesifieke geval het alles mooi netjies uitgewerk. Maar nie alle jongmeisies sou so redelik wees soos my dogter nie.

Verlede jaar by die premature afskeidsgeleentheid merk ek by die plek van aankoms vir die paartjies ‘n vriendin op. Dis toe háár dogter se regte eie afskeid. En die VOLGENDE aand is dit toe die dogter se kêrel se afskeid. En die dogter het aangedring op twee verskillende, ewe duur rokke vir albei geleenthede...

Waar gaan dit eindig? Ek stem daarvoor dat skole eenvoudig nie mense van buite die skool as metgeselle moet toelaat nie. Dis mos eintlik regtig laf as ‘n matrikulant eers formeel gevra moet word om hul skool se afskeid te kan bywoon? Hulle moet net kan gaan, elkeen op hul eie, as deel van hul groep maats - sonder dat enigiemand hoef te voel soos ‘n dinges in die drinkwater omdat niemand hul gevra het nie.

Groete,

Douwleen Bredenhann

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top