Ek hoop nie U sien hierdie as ʼn aanval of ervaar my as beledigend nie, en ek bedoel nie om U as persoon aan te vat nie.
"Die postmodernisme se basiese uitgangspunt is ʼn demokratisering van hoë en lae kultuur ..." en so gaan dit aan. Die woord "debat" is waarskynlik ʼn kompliment vir iets wat in wese ʼn gebabbel en gebraak is. Onder skuilname word mense met ʼn bepaalde status aangeval en gekritiseer" ens ens.
"Monduitspoel", J Hambidge, Die Burger, By, Saterdag 16/08/2008.
Ek het nou net ʼn paar vragies:
Wie beoefen hoë kultuur en wie beoefen lae kultuur? Dit is maklik om dinge vaag te stel, maar ek is maar ʼn redelike dom outjie, so ek sal bitter graag wil weet.
Is almal wat hier deelneem wat nie een of ander "status" het nie, besig om te babbel en te braak, of net sommiges?
Ek wil bitter graag weet oor die status-ding? Sluit dit mense soos Robert Mugabe in? Hy is immers die president van ʼn land? Wat van PW Botha, Verwoerd of George Bush? Mag ek enigiets oor iemand sê solank dit nie onder ʼn skuilnaam is nie?
Mag ek mense se godsdiens vloek (buiten die Moslems, natuurlik, hulle is hands off!) en wegkom daarmee solank dit onder my eie naam gebeur?
Waarom het Max nie gedreig om almal hier kaalgat uit te trek toe Xtene "dom dose" en wat nog genoem is nie? Per definisie word ek beledig, want vele van my geliefdes is Xtene? Ditto sekerlik vir Max?
Die punt wat ek probeer maak is dat hierdie amper "hoë" manier wat sommige mense met status het, juis deur "lae" outjies soos ek gesien word as ʼn tipe van neersien. Let wel, ek sê ek ervaar dit so, nie dat U dit wel gesê het nie. Ek wonder hoekom, juis noudat ons almal vir die eerste keer ons (weliswaar babbelend en brakend) mening mag uitspreek oor alles onder die son, daar juis uit hoë geledere wal gegooi word (weereens, dit is hoe ek dit beleef). U en sovele ander het dan juis so hard baklei dat gewone laer mense soos ek ook my stemmetjie mag laat hoor, hoe dan nou? Of het die "hoës" eintlik anders bedoel?
Ek sit met ʼn paar ou weergawes van Vrye Weekblad uit doerie jare, en ek lees hoe sommige mense nie juis gespaar is nie. In dieselfde uitgawe van Die Burger (16/08/2008) skryf iemand by name "Dawie". Dawie wie (ja, ek weet, dit is ʼn ou rubriek en die skrywer is bekend, maar is dit vir iemand uit die gepeupel wat die koerant die eerste keer oopslaan?)? Hoekom mag rubriekskrywers in ʼn groot dagblad dit doen, maar ek mag nie? Vir geruime tyd koop ek nie Afrikaans nie. Nie tydskrifte, cd's en veral nie boeke nie. Koerante kan ek lees uit die aard van my werk en dit terugstuur na NND sonder dat dit my gelukkig geld kos. Ek doen dit uit protes juis teen hierdie half eksklusiewe klub wat ek beleef: Betaal jou hardverdiende rande om my letterkunde te koop, maar verder is jy maar ʼn redelike lae outjie in my boek. Hoekom is my geld goed genoeg om julle werke te koop maar my mening tel nie, en veral nie as dit onder ʼn skuilnaam is nie?
Met respek, ek dink dit neig na eksklusiwiteit, en ons het genoeg daarvan gehad. Eksklusiwiteit sal hierdie LitNet omskep in nog ʼn Vrye Weekblad, Insig, De Kat en sovele ander wat moes vou bloot omdat mense hulle nie meer verwerdig het nie, want sonder die groot gelykmaker, Geld, kan dit nie bestaan nie.
Ek stem dat persoonlike beledigings baie onnodig is, maar so ja, dan moet dit oral en deur die bank toegepas word, of nie? Balans! Die dag as hierdie Sê omskep word in ʼn eksklusiewe klub vir groot-woord hoër gekultiveerdes, is die dag wat ek my goedjies van en loop, want soos U tereg sê: daar is miljoene sites deesdae, so iewers sal ek ʼn plekkie kry om my gebabbel en gebraak te kan doen.
Ek gebruik verskeie rekenaars en gevolglik verskeie adresse om my emails vanaf te stuur, maar gebruik altyd net een skuilnaam. U is meer as welkom om my identiteit vas te stel by Melt, soos wat ʼn paar hier al gedoen het. Tog, ek beskou dit as my reg as mens om binne beskaafde norme myself uit te spreek sonder om gedurig gesensor of op neergesien te word, bloot omdat ek nie die HAT besit nie of omdat ek durf waag om anders as die huidige konsensus te dink. Ek wonder dikwels, synde ek maar verkies om tussen die plebs te beweeg: Praat mense ook so hoog, of is dit maar net as hulle skryf? Lg bedoel ek werklik as ʼn grappie, en ek hoop nie U neem dit persoonlik op nie.
Ek groet U uit Oesterland.
oester


