Aan die wat "guts" het!
25 Mei 2010: My vrou en ek gaan na PE vir besigheid. Omdat ek 'n bedorwe brokkie is, pak sy my gunsteling kospakkie. Sy gaan haar gunstelingkitskos langs die pad koop.
Ongeveer 12h00, die besigheid is voltooi, en nou ry ons wes in Kaapweg, sien 'n Pizzaplek en ek parkeer so drie/vier plekke verby Debonairs se deur in Kaapweg. Terwyl sy haar pizza gaan koop bly ek in die motor sit en gaan solank my kospakkie se inhoud verorber. En toe gebeur dit ...
Toe ek die kospakkie wou oopmaak sit ek met die motorsleutels in my regterhand. Hoekom? "Sit dit in jou broeksak .." hoor ek "… moet dit nie terugsit in die 'ignition' nie." Ek gehoorsaam en met moeite beland die sleutels toe in my regterbroeksak.
Terwyl ek my kos eet, kom 'n persoon vanuit 'n stegie tussen twee winkels uit op die sypaadjie en wys na die linker voorkant van my motor. Omdat ek nie presies weet waarna hy wys nie, klim ek halfpad uit - staan so tussen die motor en die deur en probeer uitvind wat fout is. Hy kom nader en staan in die pad aan die ander van die deur en klop die kar ('n Fiat Uno Mia 1.1) so op die voorruit se pilaar en sê: "Jy moet nie die kar verkoop nie - dit is die beste kar - ek het by VW gewerk (en hy wys na die Polo wat voor my geparkeer staan) en hierdie kar is die beste kar." Hy praat nog dinge maar ek hoor nie te goed nie want ander motors ry verby in die straat en dit is raserig as die verkeerslig groen slaan.
So besluit ek toe om terug te klim in die motor en draai die ruit af om verder na hom te luister. Toe hoor ek dat sy kind oorlede is en dat hy geld nodig het vir die begrafnisonkostes en dat Jesus my lief het, ensovoorts, en nog meer. Skielik wroeg ek. Sal ek of sal ek nie? Ek hou gewoonlik 'n paar R10 & R20 in my hempsak om uit te deel wanneer ek nood sien - maar hierdie situasie lyk nie vir my na nood nie - of is dit? - ek
Net daar en dan kry ek 'n blink gedagte. Ek sê vir hom: "Vertel my waar en wanneer die begrafnis is, dan sal ek jou daar kry en vir jou geld gee."
Hy gooi sy arms in die lug en sê: "Dit is te laat." en stap weg. Ek kyk hom agterna en sien hoedat hy kopskuddend wegstap en een of twee keer omkyk.
O, hoe salig dat my motorsleutels in my broeksak was!
PierrevL
NS Hierdie is nie die eerste en ook nie die jongste gebeure waar ek "In Tune with Infinity" is en met behulp van 'n vlymskerp intuïsie ingelig is oor hoe om op te tree nie.


