Bokomo-brekfisbrief; 17/07/09: Aan die voorsitster van die verwelkomingskomitee van die vrouefederasie op LitNet, geagte Pouveer

  • 0

 

 

Vreeslik baie dankie vir hierdie juweel van ʼn brief (al was hy nou nie aan my gerig nie). Ek het lanklaas so lekker geglimlag! Dit was vir my heerlik!

Baie dankie ook vir die beplande "verwelkomingspaartie" en die prettige voorstelle vir ʼn spyskaart. Ongelukkig is van die gaste egter vegetaries. Kan jy dus so gaaf wees om daarrondom te werk, asseblief?

Sal jy ook kan seker maak dat die gaste mekaar nie met kos sal gooi soos wat hulle mekaar beledigings toeslinger hier op die werf nie? Ek beplan om ʼn verruklike uitrusting aan te hê en sal dit nie graag wil ruïneer met polfyntjiesous en vyemosterd nie, want soos bitter woorde, vlek dit vreeslik.

Ook wil ek jou graag bedank vir jou vriendelike woorde van verwelkoming hier in die "Sodom en Gomorra van die Afferkaner". As dit waar is, sal ek baie tuis voel hier. Ek het juis aansoek gedoen vir permanente residensie in Sodom. Deur uithou en aanhou en met harde werk is ek dalk ook een van die dae ʼn trotse Sodomiet!

Ag, en skat, jy hoef my nie te "oom" nie, hoor, ek is nog ʼn skamele 36 jaar oud. Sê sommer maar vir my meneer. Dis hoe opgevoede mense dit op Afrikaans doen.

Allerkattigste Groete

Carel van der Merwe (Snr)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top