Bokomo-brekfisbrief; 17/06/2010: Oom Dan

  • 0

Ek het jou al beduie oor oom Dan en sy kragte. Hoe hy 'n drom eiehandig op 'n wa kon optel. Hy en oupa was mos, omdat hulle broers was, soort van vennote gewees. Die een 'n meesterbouer en die ander 'n ambagsman en ystersmid sommer so tegelyk. Hier annerkant, waar die duine destyds was en die rykes nou bly staan hulle bouwerk nog steeds.

En so kom die vloed hier iewers in die vroeë Sewentigers. Soos dit met al meer gereelde reëlmaat kom. Oom Dan se huis staan mos hier teenaan die spruit, wat as die water doer van die berg af kom, lank nie meer net 'n spruit is nie. Dan is dit 'n malende massa wat wegvat wat voorkom.

Probleem egter is dat oom Dan toe alreeds so swak was dat hy nie self kon loop nie. Aan sy kooi gekluister was en so rondgedra moes word om te kyk waar die vis is. Want jy kan nee sê solank jy buite bereik van daardie hanne en arms was.

En so kom die groot waters.

Die mense sê dat, toe die water hier onder die matras geklots het, toe het hulle dit naby die ou man gewaag. En dit is toe hy beduie:

"Julle los my net hier in my kooi met die waters rondom my. Julle gaan hol en dan lê ek môreoggend kurkdroog op hierdie einste kooi en lag vir julle."

En so is die mense weg (dis die dae lank voor die SAPD met hulle rubberbote hier in ons strate rondgery het) en het die ou man alleen die waters trotseer.

Volgende oggend het hulle hom kiertsreggop in sy kooi gekry. Kurkdroog.

Hy het die nukke van hierdie waters veel beter geken as wat meeste mense vermoed het. En jare later, nou so twee of wat jaar gelede het ou Mister Muller ook in einste huis gelê en kyk hoe die waters rondom sy bed hoër en hoër raak. Die ou mense het probeer beduie dat dit nie nodig was om die verlamde man te ontruim nie. Tog het die Watereenheid in hul wysheid anders besluit. Beter so, want vandag se vloede is beslis nie wat dit 'n paar jaar terug was nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top