Sitkamer is vir die gaste met die blink skoene en blinker karre. TV-kamer is vir die klo'goed wat nie vandag lus het vir grootmensgeselskap nie. Slaapkamer is vir (KdK, druk toe jou ore): Toemaar, los maar ...
Maar 'n kombuis is 'n ander saak. Groot tafel. Geelhout. En ou stoele. Beslis jare terug uit die mode gewees. Vuur in die kaggel. En mense wat rondstaan of sit. En sommer net nonsens praat.
Die jonger generasie verstaan nie hierdie beheptheid met 'n kombuis nie. Ek probeer verduidelik van die lang aande in ons ou kombuis met die Aga wat soos 'n gedagte omgegaan het. Hoe ons later voete in die oond gesit het en net geluister het na Mavenster se wedervaringe. Hoe ons aande omgesit en Chinese Checkers of brug of poker of Monopoly gespeel het. Hoe ons later voor die stoof met die stories van lank vergete oorledenes aan die slaap geraak het. Hoe ons gemaak het of ons nog wakker is bloot om nie 'n oomblik te mis nie.
En hier sit ek nou weer voor my kaggel langs my ou familietafel. In my kombuis. En ek wonder wat doen jy nou? Ek wonder of jy warm en knus is. Ek wonder of jy darem nou lag en na 'n ou gesprek luister. Ek wonder of jy tog, terwyl jy so sit en luister, oor hierdie tafel wonder. Maar ek vermoed ek wonder te laat.
In my kombuis is daar soms harde woorde gepraat. In my kombuis is die wêreld se probleme sommer so vinnig-vinnig opgelos. In my kombuis is doodgewone mense tot konings en keisers verhef. In my kombuis is konings en keisers tot gewone sterflinge verlaag. In my kombuis het 'n pa altyd aan die hoof gesit en beveel wie die dankie moet sê. In my kombuis het daardie Pa vir my verduidelik hoekom hy eintlik vir my lief is.
In my kombuis is kos vir 'n koning voorberei. In my kombuis is my arbeiders se voedsel gekook. In my kombuis word my diere-vriende se kos sorgvuldig uitgemeet - elke porsie volgens wat ek besluit die behoefte behoort te wees.
Nou sit en wonder ek steeds: Kyk jy ook nou na die vlamme? Bewonder jy ook die stadig vergaan van wat nou die dag nog ʼn boom was? Sit en twyfel jy of jy dalk nie eendag lank gelede iets anders moes gedoen het nie? Of nou die dag nie so lank terug nie?
Rondom my kombuistafel is daar soms hard gehuil. Of stil trane gestort. In my kombuis het ons, onwetend, van baie mense afskeid geneem. In hierdie einste kombuis het die lagbuie so hard opgeklink dat die bure weke lank daaroor gepraat het. By my kombuisdeur het groot manne soms dubbeld gevou en vir Elvis "hallo" gesê. By hierdie einste kaggel het oom Herman volgens oorlewering lang aande na die vlamme gesit en staar. Nou loop en vertel hulle oom Herman spook hier ...
Nou dink ek so terwyl ek hoor van die bling en die nuwe designer-manier van kombuis uitlê. Ek plak die teëls vir die nuwe, ou generasie se mure en ek wonder hoekom daar nie meer plek vir 'n koolstoof of minstens 'n kaggel is nie. Ons installeer die ligte wat die nag tot dag verhelder en ek sit en wonder wat is die probleem? Waarom het ons so 'n obsessie met lig? Waarom is 'n doodgewone houtvuur deesdae so uit die mode? Het ons regtig so bang geword vir die donker?
En terwyl net die kole nou halfhartig die koue probeer wegdryf wat so gedurig uit die Brak opstyg, wonder ek of jy rustig slaap? Want ek bekommer my oor jou, al weet jy dit nie. En jy sal dit heel waarskynlik nooit weet nie.
oester


