Bokomo-brekfisbrief; 17/05/09: Digterlik gekruide kossies vir die steunende webmeester

  • 0

 

 

Ek het ampertjies na die oproep van die webmeester vir resepte wat goedkoop is, vir hom my alio e olio-resep gestuur, maar dis darem so eenvoudig dat ek dit maar liewer gelos het. In elk geval, dis baie lekker, en vir die wat dit wil uittoets: kook spaghetti, gooi water af en braai sommer heelwat geperste knoffel in olyfolie in die warm pot, snipper ʼn ordentlike porsie gedroogde chili in, gooi die spaghetti weer in die pot en roer goed deur. Strooi growwe seesout oor en snipper ʼn klein bossie pietersielie. Hmmm .... heerlik.

Ek dink dat oester se raadgee-lysie puik was. As mens daardie vleisporsies bloot meer dikwels weglaat uit die inkopiemandjie en lekker vars groente koop, kan mens heerlik eet. Gebraaide eiervrugskywe met feta, murgpampoentjie-repe met swart sampioene en knoffel, gestoomde vinkel met ʼn tamatie, uie en knoffel-smoorsous ... die moontlikhede is legio. Vir ʼn ligte aandete is ʼn lemoenslaai met neute net so lekker - eenvoudig ʼn lemoen of wat in skywe met ʼn paar gekapte neute oor.

Die dik stingels van spinasie is net so handig vir ʼn lekker pastagereg: mens soteer dit met preie of uie en bietjie knoffel in botter, voeg ʼn lepeltjie meel by en braai, dan ʼn houertjie vars room sodat die sous lekker romerig is, en heel laaste krummel mens bietjie bloukaas in en gooi ʼn paar jong spinasieblaartjies by. Beetspinasie (ook bekend as Swiss chard) is eintlik nog beter as gewone spinasie.

Ons eet nogal baie pasta en Oosterse kos. Die lekker ding van Oosterse kos is dat jy bitter min vleis nodig het en baie groente kan gebruik. Die kraakvars groente vol vitamine is boonop ʼn vreugde vir die oog.

Maar dit waaroor ek digterlik raak is kruie. Ek dink met dié gekruide bossies kan die webvoet sekerlik die heerlikste disse optower. Dink net aan al die moontlikhede: bergpatat met bitterbossous, grashout in gifbalblare gewikkel, oondbos met manskruie, gesmoorde kaneelbol en wildepampoen met ʼn snipseltjie kruidjie-roer-my-nie. So ʼn paar bokkoms sal alles mooi afrond, en vir nagereg dan ʼn stukkie meebos.

Ai, ek gaan myself sommer uitnooi vir ete by die webmeester - met Willa en Maya in my toortentrugsak!

Allerskattigste groete,

Pouveer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top