Bokomo-brekfisbrief; 17/05/08: Jy wil nie nou al kinders hê nie, Charl Linde

  • 0

Charl,

Ek het lekker gelag en gefrons toe ek jou briefie lees. Nee ou, wag so tot anderkant 2010.

Klink of jy heel oopkop is, so sou dit dan nou so per ongeluk gebeur, sou ek dink jy sal dit maak. Jy het darem nou al bietjie op die honde geoefen.

Kinders grootmaak en opvoed is voorwaar ʼn tamaai verantwoordelikheid en jy moet borshare hê vir dié dinge.

Na aanleiding van jou observasies kan ek vir jou bevestig dat ek ook baie observeer en het al menigmaal jongmense gesien met kleintjies wat eintlik nog self bietjie leiding en vertroeteling nodig het en dan kry ek hulle so jammer.

Die eerste jaar van baba hê is die moeilikste jaar, want daardie jaar vorm jou ook in ʼn mate. Ek het altyd gesê die eerste kind maak jou groot; jy maak die tweede een groot. En dis waar. Ek wil nie eintlik eers weer in diepte daaraan dink nie, veral nie aan die eerste drie maande van winde uitvryf en borsvoed en doeke omruil nie. Dit voel waaragtig in daardie drie maande of dit al is wat jy doen.

Jongmense kyk my altyd skeef aan as ek hulle vermaan om nie te vroeg kinders te hê nie. Ek het altyd so ʼn spreekwoord wat ek uiter: “Om kinders te hê is goed en wonderlik; om nie kinders te hê nie, is beter.” Eenmaal ʼn ouer, altyd ʼn ouer, en ouer mense sal vir jou sê dat jou kinders altyd jou kinders bly en jy altyd verantwoordelik voel vir hulle.

Ek het nou twee wat op hulle eie bly en nog een by die huis en ek lê soms laatnag en wonder of hulle veilig en wel is.

Voor mens besluit om kinders te hê is daar vele navorsing om te doen en vrae om jouself te vra. Dis nie net kry en hê nie, dis eintlik ʼn beroep om ʼn ouer te wees.

Anneke Barnard

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top