Bokomo-brekfisbrief; 17/04/2010: Kathu 2

  • 0

Een aand, laatnag eintlik, was op my Suz 1100 GSX op pad vanaf Upington terug na die Vaaldriehoek toe, het besluit om presies middernag weg te spring, fokkol geslaap nie, maar darem nugter.

Die eerste stuk pad vanaf Upington tot Olifantshoek is 160 km as ek reg kan onthou ... en eentonig ... vandaar is Kathu die volgende plekkie, en seker nog 'n 120 kilos?

Elk geval, skiet deur die slapende straat van Olifantshoek en slaan weer die pad, die keer word dit een moerse tweestryd tussen my en klaasvakie vir beheer van die bike.

Na Olifantshoek is daar mos daai laaang sieldodende pylreguit stuk pad totdat jy ewe skielik 'n T-aansluiting slaan en dan links draai Kathu se kant toe ... hier word die geveg toe lelik, ek kan skaars my ogies oophou maar hoe gemaak, ek MOET terugkom in Sasolburg, en daar is nie juis plekke om af te trek nie, so besluit ek maar om sulke knippies te vang TERWYL ek voortjaag!

Verstaan darem nou mooi, as jy opkyk dan sien jy enige aankomende voertuig omtrent 100 km ver, maw, as jy jou koppie laat sak, presies hou op die witstreep, en dan ogies knip, dan kry jy darem sulke stewige sekondes slaap in totdat jy weer opkyk, net vir die diere en dies meer, ek meen, toe ek in die weermag was het 'n koedoe bv 4 van ons onder offisiere uitgehaal op hul jeep ... elke geval die truuk begin net mooi werk, ek jaag so net mooi 100 km p h, op die middel lyn van daai lewenslose lang reguit pad, koppie af, ogies bly langer en langer toe, jy le mos lekker op die GSX, toe ek weer opkyk ... was dit net aansluitingchevrons ... die hele pad vol reg voor!!

Ek was toe in daai T-aansluiting! In daai eerste splitsekonde, dis mos wanneer tyd so soort van drupsgewys traag begin drup soos stroop, sien ek net die gruis die hele aansluiting vol, remme was dus buite die kwessie, maar 'n kop aan kop was dan verseker!

Ek mik vir die buitenste hoek van die baie lang chevron, en leun sovêr ek durf af, en mis daai buitenste skerp randjie sekerlik met minder as een millimeter, of dalk nanomillimeter, elk geval, ploeg deur die soort van sloot agter die chevron en tref die heining teen die spoed van wat basies witlig was vir my op daai oomblik ... gelukkig was daar duidelik 'n kar of ding nie baie lank vantevore ook daardeur nie, want daai stukkie van die draad was sifdraad in plaas van doringdraad en ek is regdeur en kom tot stilstand toegedraai in die heining!

Daar sit ek toe duskant Kathu en bewe soos 'n hoender in sy hok, darem nie geruk nie, net so liggies getril vir seker 20 minute, maar die res van die omtrent 6 of 700 km Sasol toe was ek wawyd-oog-wakker!

Francois Williams

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top