Bokomo-brekfisbrief; 17/02/2011: Athos

  • 0

Vra hom ander aand hoe lank hy al hier in Oesterland is en hy praat met sy swaar Griekse aksent: "Don know, too long ago ..."

Groot man, altyd soos die stereotipiese Griek aangetrek: Swaar kettings om die nek en arms en dalk om ander plekke ook.

Kettingroker. Week terug oorgeslaan na die nuwe Camels toe. Die swart pakkie. "Virginia's, try some, it better than that rubbish" beduie hy na my pakkie Dunhill Menthols. Trek sy oge op skrefies as hy aan die Kameel suig, en kyk altyd ver. Asof die ding hom laat terugdink. (Ag, en nee, vir die rekord: sigarette maak jou dood, so moenie my woorde romantiseer nie.)

’n Leeftyd terug hier aangekom. Van Cyprus af. Hier kom bly want Oesterland is baie dieselle as "my village where I grew up". En kom besigheid doen sommer so met die tweede tree wat hy gegee het. Een van die baie Grieke wat hiernatoe gekom het. Nie om gou geld te maak nie maar om hier te kom bly. Al was die geld tog nie te versmaai nie. Lank gespook en moes groot kanse waag, want hierdie wêreld is mos maar nie aldag gebruikersvriendelik teenoor "inkommers" nie. En vir seker nie as jy met ’n swaar aksent Ingels gooi nie.

Tog, sy klogoete (klassieke Griekse skoonhede ieder en elke ene) almal in die (Afrikaanse) skool hier op die bult laat skoolgaan. Swaar tye gehad met besighede oopmaak en bankrot speel en weer begin en weer iewers ’n gelukkie probeer. Ek het hom leer ken toe hy nog MB Wholesalers gehad het. Lank voor Murray & Robberts se nuwe inkopie-paradys hier was. Toe CP Nel nog die enigste petrolpompe in die omgewing gehad het. En dis waar hy spoed opgetel het, want sien, hy het gesien hierdie grond sal eendag nog ’n fortuin werd wees, so hy het loop smeek by Boland Bank en die grond gekoop. Die gerugte het, soos gewoonlik dik geloop toe die besigheid afbrand maar Athos sou nie so laag daal nie, sou hy? Nietemin, dit was sy groot begin, en so het hy sukkelende besighede gekoop, tot hoogtes gevoer en verkoop. Noem die naam en Athos het dit of besit of ’n aandeel daarin gehad.

Die dag toe die ou Jacks Motel hul deure sluit en die binnegoed op ’n veiling verkoop moes word het Athos die geleentheid gesien en die plek gekoop, opgeknap, die vir dansbaan (wat so gewieg het as jy daarop gedans het) nuwe vere ingesit en die kroeg oorgedoen. En na Mossgas toe gegaan met ’n aanbod wat hulle nie kon weier nie, want blyplek was maar skraps vir al die hordes Turke en arbeiders wat PW se projek moes kom bou. Athos sê hy het later die plek verkoop vir etlike miljoene maar ek dink hy jok, want ek het gehoor hy het minstens dubbel gekry. En die nuwe eienaar (Mossgas) het die plek so laat verwaarloos dat die plek later byna gesloop moes word as die Munisipaliteit nie tot hul redding gekom het nie (die verkeerskantore is nou daar).

Lank voor Kortbroekie, (of is dit nou Swembroekie?) gedink het aan toerisme het Athos al gesien waarheen die wêreld neig, en slim genoeg vooruit gedink: Restaurante. Ek sê steeds, en ek gee nie om of dit nie polities korrek is nie: Sg Afrikaners kan nie suksesvol Kefies of restaurante of groentewinkels besit nie dis net ’n jaar of twee en hy sien sy gat. Daai is vir Portugese, Italianers of Grieke. Afrikaners vaar baie beter in politiek en slimpraatjies en lugkastele bou en boeke skryf.

So druk Athos sy kop in ’n byenes in: ’n Baie uitgeslape man verkoop aan hom ’n stuk grond by die Punt. Dis die stukkie grond wat Athos al ’n leeftyd wou bekom maar omdat hy ’n "inkommer" is kon hy net nooit die kans kry nie. Hy het die dag na die transaksie beklink is kom vye pluk en kom skulpgoete eet saam met Maria. Om te vier. Want dis nie aldag dat mens R29 miljoen betaal vir ’n kaal stuk erf nie. Ons het na die tyd gepraat oor die onreg en die skreiende skande dat sg "ou" inwoners met die Agbare Raad se hulp so laag kon daal om so ’n klein stukkie grond vir soveel te verkoop maar Pinnacle Point is verkwansel aan hul vrinne vir ’n skamele R1 miljoen. Maar dis water wat onder deur is en gou het Athos die fondasies laat grawe vir sy droom: Klein, eksklusiewe hotel en restaurante met persoonlike diens vir hom en sy kinders. Om ’n lang storie kort te maak: Athos moes na voltooing die leeuedeel verkoop en het basies net sy "steakhouse" behou. Hy sê vir my hy het baie meer verloor as wat hy teruggekry het maar dat die dorp nou ten minste iets het om op trots te wees.

Ek vra hom uit oor waar M nou is want sy kom stop nie meer nie. Sy is nou in Zambië. Groot "wholesaler" in Lusaka en hulle gaan nog ’n paar oopmaak want die geld rol en die regering is vriendelik teenoor beleggers en die inwoners beskou hulle nie as "settlers" nie maar as werksverskaffers en bringers van voorspoed en Milky Bars en Tastic Rice.

Ek vra hom uit oor die "village" doer in Ciprus want hy het gesê ek kan daar loop afpak as ek wil vir ’n week of twee as ek eendag vakansie vat. Ek vra hom uit of hy ooit sal terugkeer as die popo die waaier tref hierso.

"No, my friend, I love Africa. I take Maria and we go north. M say it is very good in Zambia. Dollar is good, Kwatchas is out. That monkey in Zimbabwe is good for business in Zambia."

As jy ooit hier in Oesterland rondry, ry om die bekende punt en dan stop jy en vra waar Athos is. Almal sal jou beduie en as jy daar instap sal hy jou met sulke wye oop arms verwelkom. Nie omdat hy wil geld maak uit jou nie, maar omdat dit in sy geaardheid is. As jy daar wegstap sal hy jou op jou naam noem en nooit ooit weer jou naam vergeet nie. Jy sal daarna sy vriend wees.

Groete uit Oesterland.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top