Bokomo-brekfisbrief; 17/02/09: Misa Criolla

  • 0

 

 

Ai, maar ek sit nou so lekker en werk en in die agtergrond sing Mercedes Sosa in haar unieke stem Ariel Ramírez se Misa Criolla. Hoendervleis mooi!!

My gedagtes loop draaie en ek onthou ons eie diva, Amanda Strydom, se weergawe daarvan een jaar by die KKNK.

Wat vir my so merkwaardig is, is dat die stuk wat in Oktober 1964 vir die eerste keer in Buenos Aires opgeneem is, internasionaal so gewild geword het. Drie miljoen kopieë is van die eerste opname verkoop nadat dit in 40 lande vrygestel is.

Die treffende solosang word uitstekend ondersteun en gedra deur 'n koor van ten minste 40 stemme, 'n orrel en 'n versameling instrumente wat onder andere 'n charango (ʼn kitaar met vyf dubbelsnare), 'n quena (tradisionele fluit), siku (Boliviaanse panfluit), leguero-drom (gemaak van diervel wat styf oor 'n silindries-gebuigde raam van wilgerboombas gespan word), trekklavier en ander tradisionele instrumente insluit.

Dis ook interessant om te weet dat die Navidad Nuestra in 1964 saam met Félix Luna, een van die voorste Suid-Amerikaanse digters, gekomponeer is. Dit is 'n Kantata-agtige reeks liedjies waarin Ramírez elke een van die ses liedjies 'n eie streeksgevoel gee. Elke liedjie word gekenmerk deur 'n verskillende ritme of dans-tipe wat wissel van die grasie van die chamamé vir die Aankondiging (Nr 1) tot die uitbundige ritme van die chaya riojana vir die aankoms van die herders (Nr 4), of die vidala tucumana aan die einde wat so treffend die vlug van Moeder en Kind na Egipte weergee.

Mercedes Sosa is in 1935 in San Miguel de Tucumán in die noordweste van Argentinië gebore. Die merkwaardige van die spesifieke opname waarna ek sit en luister is dat haar solo's in Tel-Aviv opgeneem is toe sy 64 jaar oud was! Die stem is wonderlik suiwer en só emosievol meesleurend! 'n Werklik voortreflike eksponent van die musiek van daardie besonderse streek. Sy is een van die gróóót name in Latyns-Amerika en geniet vandag nog 'n reuse aanhang en van die grootste Suid-Amerikaanse musikante val oor hulle voete om saam met haar op te tree.

Sy word veral erken vir haar uitgesprokenheid teen menseregtevergrype en sy het ook as gevolg daarvan 'n paar jaar in aanhouding deurgebring. Dit het egter net bygedra tot haar besonderse inlewing in hierdie musiek. Die Argentyne verwys liefdevol na haar as "La Negra" na aanleiding van haar raafswart hare.

Vir dié van julle wat sou belangstel: Die opname is van DECCA en is in 1999 opgeneem deur Universal Music Argentina. Nr: 467 095-2.

 

 

'n Foto van Mercedes Sosa (1973) waar sy op 'n leguero speel.

(Foto van Wikimedia commons).

'n Stem

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top