Op een of ander manier voel Kersfees vanjaar net anders. Dis asof die tyd deur die uurglas geglip het sonder dat ek dit merk - alles net te vinnig. Eerste fout vanjaar: Ek het vergeet om 'n Adventskalender uit Hamburg te bestel en nou is my Advent leeg - sonder die pragtige gedigte en stukkies om elke dag te lees.
Toe ek weer sien, bind die stadsraad se versierders orals denneboompies aan die lamppale in die middestad. Die Donderdag voor die Eerste Advent dog ek dat ek seker moet begin kerse soek vir my krans. En daar sien ek toe hoe die honde ewe windmaker die boompies inwy deur hulle bene te lig terwyl hulle rem aan die hondelyne wat Herrchen of Frauchen nog woes probeer inkatrol. Ek soek vervaard na ietsie vir vier klein presentjies vir die kinders - een vir elke Advent Sondag. Ek sien iemand was so gaaf om Amarula-likeur af te gemerk het tot €3 net omdat die vervaldatum oor ‘n week is. Ek koop die getiervelde bottel as 'n Nikolausi vir Schatz se Kersvader sokkie. (Ja-nee, by ons kom Kersvader met sy rendiere mos reeds 6 Desember verby gesuis sodat hy nog oor die ekwator kan jaag na die suide toe. Ek wonder of hy darem iewers vir hom 'n baaibroek aan trek ... )
In die opgewondenheid dat Kersfees al weer voor die deur staan, sien ek stapels byewas kerse vir die kersbome en dink dat ek my nie weer gaan laat vang soos laas jaar nie en koop sommer sestig kerse sodat daar genoeg gaan wees. Laas jaar moes ek wit kerse koop omdat die byewas kerse reeds almal uitverkoop was en dis darem net nie dieselfde nie. Op Oukersaand as die pragtige boom staan gemaak word in sy swaar staander met water en lieflik versier word, is dit eenvoudig deel van die onvergeetlikheid van Kersfees dat die geur van dennenaalde met byewas moet meng. Dis hoort net so.
Gisteraand het ons toe 'n pragtige kersboom gaan uitsoek en dit buite op die stoep staangemaak. Dit was toe ek dringend 'n ontlugtingssleutel vir die verhitting gaan soek het by die boumark nadat dit het onverklaarbaar "koud" begin raak in die huis. Oortollige lugblase laat ontsnap, water opgevul, en toe lekker onder die verekombers gaan inkruip. Vanoggend toe ons opstaan stel ek vas dat dit darem BAIE koud is. Gisteraand was al -1°C toe ons gaan shop het en nou voel dit asof dit amper -1°C binne in die huis is. Ek gaan toe af kelder toe en stel ondersoek in oor wat aangaan. Die verhitting is af. Bel die service ouens om te kom kyk wat aangaan.
Eerste vraag: "Was julle kelder ook onder water op 3 Julie met die oorstroming?"
"Ja."
"Hoe diep?"
"Dertig cm."
In die geval, reken die jong verhittingsdeskundige, gaan hy niks kan doen nie, want die elektrodes en dies meer was onder water. Dit beteken dit kon binne-in geroes het, en dan kan daar kortsluitings plaasvind wat beteken dat dit gas laat uitstroom hoewel daar geen vlam is nie, en dan 'boem' kan die hele huis in die lug opgeblaas word.
Hy is eers bereid om die verhitting weer in werking te stel sodra vier onderdele vervang is wat die risiko uitsluit, want anders stel hulle ons lewens in gevaar en die staatsaanklaers vat nie nonsens as so iets gebeur nie.
"Okay", sê ek toe. "Hoeveel sal dit kos?"
Hy bel in na sy firma toe en wag. Die ou aan die ander kant of hulle nog onderdele kan kry vir hierdie "voor-sinvloed" verhittingsstelsel soos my man dit noem.
"€500", kom die antwoord.
Wat veral ergerlik is, is dat ons juis laas jaar daardie onderdele laat vervang het. Intussen het die verhitting ook al 'n paar jaar op sy boggel (20 jaar) en dit word seker tyd om aan nuwer tegnologie te dink. So begin die wiele rol om eerder 'n nuwe en effektiewer gasverhitting te laat installeer wat sommer ook aan die muur monteer kan word sodat dat dit nie weer weens oorstromings skipbreuk kan ly nie.
So sit ek nou hier in die koue, my hande amper blou, en wonder hoe ek die koue gaan oorlewe tot volgende week! Sê nou ons het nie eers warmte vir Kersfees nie?
Vir julle almal 'n vrolike Kersgety. Hou tog asseblief duimvas dat ons teen volgende week nie meer hoef te vries nie!
Krautie


