Liewe Sue!
Jou foto lyk asof dit iewers in my bos geneem kon gewees het! Ek kan nie juis van ʼn voor- of agtertuin, of ʼn tuin van enige aard, praat nie, want ek woon in ʼn ruie, inheemse bos. Ek het die natuur sy gang laat gaan, tot ergernis van my bure wat alles kaal en klinies wil hê. Eintlik is hulle bang vir slange, maar vir wat sal 'n slang nou my heerlike bos verlaat en gaan rondsukkel op 'n barre, kunsmatige stukkie aarde?
Nou, ten spyte van my belangstelling in voëls, moet ek bely dat ek nog nooit ʼn hadida-kleintjie of -nes gesien nie. Hulle lê glo tussen twee en vier eiers, en dis juis nou hul broeityd. (Met dié dat ek toe ʼn bietjie in my voëlboeke rondblaai, sien ek hulle gebruik die spelling "hadeda". Maar wat, "hadida" lyk vir my net so reg, of hoe?)
Ek het in my prille jeug in die Wes-Kaap (Boland) nooit iets soos ʼn hadida geken nie. Ek het hulle vir die eerste keer agtergekom toe ek in Natal kom bly het. Maar die afgelope twintig of dertig jaar het hulle ook mos so stadigaan uit die oostelike en noordelike dele van die land begin aftrek Kaap toe.
Hallo, Willem!
Weet jy, ek gebruik nie graag daardie modewoord "ongelooflik" nie, maar jou prentjie is werklik ongelooflik! Dis nie elke dag dat mense die komiese in ʼn alledaagse situasie kan raaksien nie - dat hulle die ongewone in die doodgewone kan herken nie. (Ou Willie Wikkelspies het mos gesê "wit is nature to advantage dressed - what oft was said but ne'er so well expressed").
Wat het jy gesien toe jy na daardie formasie gekyk het? ʼn Leeu of ʼn mummie? My eerste reaksie was "leeu", maar toe ek ʼn bietjie langer na die prentjie kyk, dag ek: ek het nog nooit ʼn leeu gesien wat "ô" sê nie. Toe begin die ding vir my na ʼn mummie lyk, maar nou weet ek nie of daar 'n rede is waarom 'n mummie "ô" sou sê nie. Toe maar weer terug na die leeu: ʼn baie ou, spierwitgrys leeu wat lyk of hy "ô" sê omdat hy nie meer tande het nie.
Baie dankie vir jul briewe. Ek het weer ʼn paar besoekinge gehad, maar volgende keer sal ek aan julle dink en die skropwerk met ʼn ligter en meer opmerksame gemoed doen.
Groetnis!
Swys


