Na meer as 47 000 kilometers is ons uiteindelik weer terug in Knysna en lyk die meer vir ons selfs mooier as toe ons hier weg is!

Ons laaste skrywe het ons uit Lusaka gestuur vanaf ’n PostNet-internetkafee binne-in ’n splinternuwe winkelkompleks met ’n Game en ’n Shoprite – kompleet nes in Suid-Afrika. Om die prentjie mooi af te rond het daar, terwyl ons in die kompleks sit en iets eet, ’n jongerige dame verbygeloop en Afrikaans oor haar selfoon gepraat!
Die voertuie was amper soos perde wat die huis geruik het en wou net suid ry. Ons is by Chirundu oor die grens in Zimbabwe in en het net anderkant die grens by Makuti oornag. Soos te verstane was ons redelik keelvol vir tentopslaan en het ons in ’n hotelletjie gebly wat op sy dae ’n spoggerige plek was maar wat onder Bob se wagbeurt heeltemal verval het. Die elektrisiteit het eers die aand agtuur aangekom en van warm water was daar net gerugte. Ons het nietemin ’n heerlike ete die aand geniet en terwyl ons ’n drankie in die kroeg gemaak het, het die kroegman ons meegedeel dat ’n ene mnr Bredenkamp die hotel gekoop het en dat hy beplan om dit weer in sy volle glorie te herstel. Toe ons die van van die nuwe eienaar hoor het ons dadelik eenstemmigheid bereik dat die moontlikheid dat die plekkie weer gaan herleef baie sterk is.
Die volgende oggend het ons by Chinhoyi (die ou Sinoia) grotte gestop en weereens die pragtige blou water in die grot bewonder.
Vandaar is ons na The Great Zimbabwe Inn op die oewers van die Kyle-dam (nou een of ander naam) by Masvingo. Hier is ons in egte koloniale styl verwelkom en bederf met pragtige kamers, warm water en die mees ongelooflike ete – alles voorgesit deur hoogs opgeleide en vriendelike personeel onder leiding van ’n vrou van Louis Trichardt. Die volgende oggend het ons ’n heerlike ontbyt genuttig maar ons is meegedeel dat die spek nie varkspek is nie maar beesspek. Verdere navraag verklaar toe dié misterie en word ons meegedeel deur die vriendelike dame van Louis Trichardt dat die eet van varkvleis uiters ongesond is omdat ’n vark nie sweetkliere het nie. Dit is volgens haar die rede hoekom dit in die Bybel verbied word omdat die vark al die toksienes terughou en sy vleis basies giftig is. Hoekom die vark self nie van die gifstowwe omkom nie word nie gevra nie!
Na ons heilsame ontbyt het ons die Zimbabwe-ruïnes gaan kyk en oor die volgende gedagte gemymer: “Baie jare terug het die mense Rhodesië besoek en na die Zimbabwe-ruïnes gaan kyk. Deesdae besoek die mense Zimbabwe en kyk na die ruïnes van Rhodesië.”
Van die Zimbabwe-ruïnes af het ons die voertuie vir oulaas teen $ 1.04 per liter volgemaak en afgesit Beitbrug toe vir ons laaste grenskruising. Omdat ons relatief voorspoedig was met die stuk of 25 grenskruisings, het ons maar gehoop dat ons geluk gaan hou en dat ons eie geliefde broeders by die doeane in Suid-Afrika nie vir ons onnodig gas gaan gee nie. Die mense was egter baie vriendelik en hulpvaardig en kon ons na 180 dae weer hierdie kennisgewingbord met die wêreld se mooiste vlag daarop sien en bewonder – dit was wonderlik om weer terug te wees!

Ons eerste stop na Beitbrug was Louis Trichardt waar ons eers ’n bietjie feesgevier het. Daarna is ons via Pretoria na Johannesburg om vir een van die seuns dankie te sê dat ons sy erfporsie só kon aanwend.
Van Johannesburg af was dit Dertien Uur (net meer vervelig as Deon Meyer se storie!) tot in Knysna. Terwyl ons so ry en heerlik na RSG luister het ons begin om ons volgende avontuur te beplan – hou hierdie spasie dop!
Fluit-fluit ons storie is uit. Om rondom Afrika te ry was vir ons ’n onvergeetlike ervaring en, soos die klim van Kilimandjaro, was dit net iets wat ons moes doen.
Ek hoop om oor die naweek bietjie na die nuutste debatte op die Sê te loer en weer te begin deelneem.
Groetnis
Thomas


