Dis nou amper ʼn jaar wat ek hier bly. Dele ken ek al goed maar op ander gebiede voel-voel ek maar nog my pad. Vriendin wat al jare hier woon, is baie gewillig om vir my die weg aan te dui. Maar ʼn individualis, ondersoek ek maar op my eie ook.
So loop ek op ʼn dag ʼn vrou in ʼn groot kettingapteek raak met ʼn pragtige behangsel om haar nek. Ek komplimenteer haar daarmee. Sê sy, sy het dit self gemaak, maar die benodigdhede het sy met haar laaste "vreemde" geld in Singapoer, toe sy daar was, gekoop. Sê sy darem ook dat sy hier ‘n plek op die Vissershokpad raakgeloop het, dié verkoop dit amper nog goedkoper. Kom ons sê maar dié plek se naam is Joosub's Trading wat dit natuurlik nie is nie. Ek hou dit in ʼn laaitjie in my agterkop, want ek is ook lief om sulke behangsels te maak. Vriendin sê ja, sy weet waar die plek is, sy sal my gaan wys. As jy uitry met die genoemde pad, sit dit glo sommer net daar, jy kan dit nie mis nie. Alles inligting vir eendag.
Intussen het ek by University of the Third Age (U3A) aangesluit. Wie meer daarvan wil weet, kan dit maar Google. Een van die groepe van U3A leer mens kralewerk doen. Omdat ek my lank terug self geleer het, besluit ek dat ek nou die kuns wil bemeester. Mens betaal R5 elke keer en jy gaan en leer vir twee uur lank. My eerste les is vanmiddag. Gister besluit ek om bietjie krale te gaan bykoop.
Ek gaan na die kralewinkel, hier in Durbanville. Nee, die kralewinkel het lankal toegemaak, dis nou ʼn kunswinkel waar mense duidelik ook kan leer skilder, hulle staan daar, besig met verfkwaste. (Nota aan laaitjie in agterkop - dalk kan ek dit ook probeer!) Nietemin, die dametjie daar is baie hulpvaardig en sê daar is ʼn plek op die Vissershokpad. Ek vra sy moet beduie.
Jy ry glo uit op die pad, tot net daar waar die pad afdraai na D'Urbanvale toe, tot by die afdraai na Clara Anna Fontein (wat ʼn pragtige naam, dink ek!). Dis sommer net daar, jy kan dit nie mis nie. Ek vra of ek moet afdraai op Clara se pad. Ja, ek moet. Wat sy nie gesê het nie, is dat daar twee afdraaipaaie na die mooi-naam-plek toe is en dat ek die tweede een moes neem. Ek draai met die eerste een af, ek ry en ek ry en ek ry. Ek sien regtig niks wat sommer net so daar sit nie. Na wat vir my soos 300 km gevoel het, draai ek maar om. Terug op die Vissershokpad, ry aan, sien nog ʼn afdraai na Clara Anna se plek toe. Maar voordat ek daar kom, sien ek ʼn paadjie wat afdraai na D'Urbanvale toe. Ry tot by Clara se pad, sien niks, draai om, nou al twee keer by die twee permanente spoed kameras wat ek gelukkig gesien het, verby. Draai in by D'Urbanvale. Lyk soos ʼn hele dorpie, sien niks wat sommer net daar sit nie. Sien ʼn verwer, bedrywig op ʼn stellasie. Vra hom of hy van ʼn plek met so ʼn naam weet. Ja, sê hy, dis sommer net hier beduie hy met sy hand, met so ʼn regsom draai. Dan moet ek seker bietjie dieper in D'Urbanvale in. Kry niks, draai om. Vra vir ʼn vrou wat by ʼn skooltjie werk. Ja, sê sy dis nog aan op die Vissershokpad, dan sal ek sulke groot borde sien waarop staan Joosub's Trading. Maar sy sê niks van ongeveer vyf ander groot borde wat ook daar staan nie. Wanneer mens self bestuur en plek soek, kan dit nogal verwarrend wees. Nadat ek daar ingedraai het, was dit nog ʼn kilometer voordat ek dit uiteindelik sien. Sommer net daar, ek kon dit nie mis nie, is Joosub's Trading.
Lidia


