Bokomo-brekfisbrief; 16/07/08: Gewigtige Tannie

  • 0

"Big Ben" vertel vir my eendag hierdie storie wat dalk moontlik op ʼn ware gebeurtenis geskoei is. Soos dit enige getroue vriend betaam, staan Ben sy vriend Erik toe mos by op sy dag van nood (troudag)!

Gelukkig is hy nie opgeroep om die strooijonker te wees nie en kan rustig in een van die rye kerkbanke sit, om die "aansit van die strop" gade te slaan.

Hy besluit toe wyslik (?) om op die punt van die ry naaste aan die gangetjie te gaan sit. Dan kan hy maklik uitkom om watter rede ookal. Snaakse dinge het al in kerke gebeur, daar is mos geen nodigheid om kanse te wil vat nie. So sit hy toe nou heel veilig en rustig en hou die verrigtinge dop.

Nie lank in die diens in nie of ʼn redelik gewigtige tannie wat teen die muurkant van dieselfde ry as Ben sit, staan op en begin stelselmatig haar pad oop-stoei, verby die ry bene van al die sittendes. Dis niks ongewoon vir iemand (veral gewigtige tannies), om skielik te onthou dat hul vergeet het om eers toilet toe te gaan nie?

Toe sy by ou Ben op die punt kom, swaai hy ewe galant sy bene uit die pad uit, in die gangetjie in. Hoe sy sy nommer elfs kon miskyk bly ʼn raaisel, maar dat sy van daai gevaarlike tiekie-hakke aangehad het, is ʼn wrede feit! Waarom daar nog nie ʼn wet is teen "overloading" van dié tipe hakkies nie, is ʼn ope vraag! Ewenwel, sy trap met daai skerp hak presies in die middel van Ben se linkervoet. Hy voel hoe daardie skerp punt sy voet so te sê deurboor! Almal in daai kerk moes die kraakgeluide gehoor het soos die beentjies in sy voet meegee onder die "3 ton" gewig, wat op die klein hakkie balanseer!

Sonder ʼn woord van askies of iets, stap die tannie die gangetjie op om haar neus te gaan poeier! Ben se voet voel of ʼn lorrie hom raakgetrap het! Tussen die verwronge pyn-trekke op sy gesig deur, dink hy aan lelike dinge wat hy haar kan toevoeg as sy dit sou durf waag om terug te kom!

Maar ou Ben is nie regtig ʼn haatdraende ou nie en na ʼn paar minute wat soos ure gevoel het, is nog net negentig persent van die pyn oor! Sy sal darem seker met die terugkom verskoning vra vir die uiterste pyn en lyding wat sy hom veroorsaak het?

Skielik voel hy ʼn arm op sy skouer! Dis sy! Saggies, met ʼn bakhand naby aan sy oor vra sy: "Is jy die jong man op wie se voet ek getrap het dat die bene so kraak, netnou toe ek hier uit is?"

Ewe tegemoetkomend beaam ou Ben dit. "Dankie tog, dan is ek darem weer by die regte ry," fluister sy terwyl sy by hom verby beur en haar tiekie-hak, sy eens pynlose regtervoet ʼn eweknie van sy vermorselde linkervoet maak!

My vriend Ben reken van daardie dag af dat ʼn man nie noodwendig ʼn ongelowige hoef te wees om kerke eerder te wil vermy nie! Hy beweer dat sy voete sommer vanself begin pyn sodra hy ʼn kerk sien!

Groetnis.

Neels (Husky) Visser

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top