In die dae toe dominees nog arm was, huisbesoek gedoen het en elke lidmaat en die se krose by die naam geken het, die eerste prediking al teen seweuur begin het en die boere hulle bydrae in die vorm van kos gegee het. Die kosserasies is vroegoggend by die hoofouderling se huis afgelewer. Hy het dit dan voor die diens by Dominee se huis besorg. Daar nie werksgroepe en bidgroepe en aksiegroepe was nie. Die enigste musiek ‘n orreltjie was. Pakke en daste verpligtend was en kinders hulle se bekke gehou het en versies geleer het. Jy kon toe nog Katkisasie dop. Maklik. Die prediking oor die SONDE gegaan het en almal vir die hel bestem was.
So sus die temel van die dominee op die preekstoel my aan’t slape. My Pa gee my ‘n draaiknyp. Hy het dit nooit weer gedoen nie want my vervaarde blêr gee die ook slapende ou man langs my drafkak vir ‘n week!
Ewenwel. Nou, ter agtergrond:
Die dominee was ‘n Hollander.
Sy vrou was die orreliste. Dierbare tante. Mevrou Dominee. Hy had die gewoonte om vroeg aan die begin van sy preek iets te sê oor kos. Die een en ander kossoorte in die preek in te weef.
Die eienaardige ding was, dat die orreliste, Mevrou Dominee, as hy die kosbekookte intrede klaar gebulder het, ‘n paar akkoorde uit die orrel uitgewurg het. Soms hoog en liries soms laag en dreigend. Heel dramaties.
“Denk gij dat die Hemel soos een bord kos met sagte eiers en krispe spek is?” (Lae dreigende akkoord.)
“Die sonde kom na julle soos ‘n bord kos met ‘n tjoppie en brood en geurige souse! Met een uiwe en ‘n tamatie by!” (Lae Akkoord!)
“Dat een schaapboud met gebakte aartappels jou in die Hemel in sal laat?!” (Liriese akkoord!)
Dan gaan Dominee aan met ‘n twee uur lange predikasie.
So:
Die oggend begin met die gebruiklike. Die eerste sin van die gebruiklike kos bedreiging. Sê maar “Schaapboud en …” (Die orrel is stil.)
Dominee huiwer vir ‘n oomblik en hervat met “Geurige sop en …” (Die orrel is stil.)
Dominee: “Pap …?”
My Pa stamp aan my en wys met sy ken na waar die ouderlinge met hulle swart pakke en wit daste sit. Die hoofouderling is rooi in die gesig. Ek
Sien, Dominee gebruik die inleidende kosbedreiging as ‘n soort kode om vir Mevrou Dominee te vra wat vir ete is na die diens. Sy antwoord hom met ‘n liriese akkoord as hy raak raai en laag as hy weer moet probeer. Die hoofouderling het vergeet om die kosoffers af te lewer en Mevrou Dominee weet nie wat op die spyskaart is nie!
HJ


