Dit gebeur dikwels op my reise. Na ʼn konsert sal iemand na my kom, oë wat tril van die trane. Soos vanmiddag, net buite Parys, Frankryk.
ʼn Vrou kom na my, vertel hoe haar gevoelens vroeg in die show begin losraak het. Hoe sy begin huil het toe ek "Her Time Has Come" gesing het. Sy kon egter geen Engels verstaan nie. Toe die aankondiger in Frans daarna verduidelik waaroor die lied gegaan het, toe ruk dit haar. Dis Afrika wat haar gevoelens losgemaak het!
Teen dié tyd vloei die trane vryelik. Sy vertel hoe sy haar eerste sewe jaar in Algerië groot geword het. Daarna is hulle terug Frankryk toe, en sy het Afrika nooit weer gesien nie. Vandag spring daardie ou gevoelens oor ʼn plek, oor ʼn kontinent, weer lewendig, ʼn plek waar sy op haar gelukkigste was.
ʼn Man in België vertel ʼn paar weke gelede hoe hy vir agt jaar in die Verre Ooste gebly het en hoe die plek in sy hart ingegroei het. Daarna is hy een keer na Suid-Afrika en het vir drie maande daar gereis. Vandag leef hy met ʼn groot verlange, nie na die Ooste nie, maar na Suid-Afrika.
ʼn Duitse vrou vertel iets soortgelyks - hoe sy ʼn spontane liefde vir Afrika ontwikkel het tydens haar eerste besoek en hoe sy iets van daardie selfde liefde vir ʼn plek by Suid-Afrikaners in die buiteland waarneem. Sy sien nie daardie selfde soort hartsgevoel by expats van Australië, Amerika of ander Europeërs nie. Veral nie Duitsers, wat geleer het om nie gevoel vir hul eie sommer te wys nie.
ʼn Hollander vertel my hy was nog nooit in Afrika nie, maar wil baie graag gaan. Sy oupa het lank in Midde-Afrika gebly en het hulle as kinders baie stories oor die plek vertel. Eendag vra hy sy oupa: "Oupa, maar sê nou, hoe IS dit in Afrika?"
Sy oupa het ʼn oomblik stil geword, hom in die oë gekyk en gesê: "Dis paradys."
Om nie te praat van expats nie. Afrikaners, Engelse, Jode, Afrikane - dié duik gereeld by vertonings op. Sommige Afrikaners konk in. As die musiek hulle harte huis toe vat, word die verlange net te erg. Ander hou weer die innerlike forte in stand. Maar hulle moet omtrent forte oprig om hierdie diep, warm, huislike soort heimwee in toom te hou.
En dis wat ek al dikwels gehoor het van mense wat Afrika vir die eerste keer tref: hulle voel asof hulle tuisgekom het.
Ek lewer nie hierdie relaas as een of ander romantiese idealisering van Afrika nie. As iets jou so raak dat jou hart begin water stoot deur jou oë stoot, dan praat ons nie van sentimentaliteit nie. Dis ʼn beweging van jou menswees. Ek haal dit ook nie op om Afrika-pessimiste en rassiste en ANC-haters ʼn hou toe te dien nie. Want ook hulle weet in elk geval waarvan ek praat. Wie kan ongeraak bly deur Afrika?
Ek noem dit om daarmee te sê ek het nie die evolusieteorie of argeologie, antropologie of die nuutste genetiese kaarting van ons geslagslyne nodig om my te vertel dat die mensdom sy oorsprong in Afrika het nie. Ek kan maar net deur die boek blaai van menseharte wat oorloop van ʼn onpeilbare herkenning, ʼn terugvind van iets oorspronkliks, ʼn roering meegebring deur ʼn ongekende gravitasie.
Dit bring ook ʼn rustigheid in my oor die "voortbestaan" van "my mense' in Afrika. Daar is op die ou end iets meer wat ons aan Afrika bind as dit wat ons kan bydra tot haar ontwikkeling, die gejou van wit en swart rassiste ten spyt. Dit is die lokstem van Afrika self. En as ons uit ʼn wit-geskrikte vrees nie daar wil bly nie, sal ander steeds gelok word, Europeërs, Oosterlinge, Australiërs, Noord- en Suid-Amerikane. Want geen ander plek op aarde bring almal bymekaar soos Afrika nie.
En nou is ek bly die Europese toer is op ʼn einde. Ek wil terug.
Francois le Roux (HA!Man)


