Bokomo-brekfisbrief; 16/04/2010: Eddie en bikes

  • 0

 

Eddie is wat ons sou noem 'n bedorwe klein twak. Ma dood destyds kort na, maar nie direk agv die Laingsburg se vloed nie, oorlede. Al beduie sy pa dat die vloed hom met 'n pappe baba gelos het.

Eddie het basies soos 'n klein Lord grootgeword. As hy aangejaag het moes die ander klogoed pak kry, ongeag. Want hulle moes toesien dat Eddie nie oor die lyn trap nie. Daardie lyn is basies van dag tot dag verander om voorsiening te maak vir Eddie se gedrag.

Eddie is nie skool toe verder as, wel, graad een nie. Want skool kan hom nie ryk maak nie. Eddie het op sestien "net soveel verdien soos die president" en wie kan nou met sulke basiese logika redeneer? Selfs die skoolmeesters het met die tyd moed opgegee.

Eddie het in elk geval 'n hele paar Sanlam en Mutual en 'n horde ander polisse agter sy naam gehad (moeder het verder gedink as sub A, sien) wat eendag as hy 25 sou word syne sou wees. Klein miljoenêr sonder om 'n vinger te verroer.

Eddie se passie in die lewe was en is bikes. Groot, klein, tweewiel, vierwiel, makie sakie. Enige biker begin mos maar met 'n Fifty. Soms nuut, maar as jou naam Eddie is begin jy met 'n wrak en bou hom op. En piskriek irriteer jy alles en almal om jou met jou wheeeeee-muskiet-verskoning vir 'n bike. En dan vorder jy mos na iets soos 'n 650. Gekoop iewers by iemand wat hom lankal sien aankom het, want omdat Eddie nie sin in skoling gehad het nie, is sy kennis en syfervaardighede logies beperk tot : "Hoeveel kos hy? O, R10 000, dis reg so!"-tipe van ding. En die note rol, Eddie is bly vir 'n dag en iemand lag bank toe.

Eddie het tog gevorder tot tipe van local bike mechanic. Want omdat hy al letterlik tientalle bikes uitmekaar gehaal en weer aanmekaar probeer sit het, het hy tog 'n mate van kennis agter hom. Snaaks dat, sodra hy iemand met 'n stywe begroting se fiets aanmekaar gesit het hy altyd toetsbestuurder moes wees met die logiese (negatiewe) nagevolge.

Tot die dag wat Eddie hier langs my kom staan toe ek my GS wou intrek. Hy wil net voel hoe voel soveel perde tussen sy bene. En hy wegtrek soos 'n besetene ...

Die beeld waar hy doer van Klipheuwel se kant af nader kom is vir ewig gebrand in my kop. Want hy het nie nadergekom nie, hy het basies laag gevlieg. Want sien, as jy 'n vark klim en jy draai sy oor gaan hy hol. As jy 'n 1000 klim en jy draai die oor gaan jy, wel, vinnig beweeg om dit polities korrek te stel. Ek het sy naderkom so teen 200km/h geskat. Hy sê ek lieg, dit was nader aan 180. Punt is, selfs 'n vark moet sy voete ken as daar 'n draai voor jou is, en as jy op 'n GS sit en jy beweeg teen (ok, kom ons gee hom die voordeel) 180 moet jy jou sit baie goed ken anders gaan jy grond toe.

Eddie is eers grond toe en toe met die grond gesels vir so 50 (dit kan minder wees) meter of wat en toe met my mure kontak gemaak ... As ek vir jou beduie dat Eddie en my geliefde GS twee pale (een konkreet en een seweduim-houtpaal) soos in weggevat het praat ek regtig af. Want die stukke beton het meters ver gelê. Eddie se voetjies het so half onder my GS uitgesteek.

Skedelbreuk, gebreekte heupbeen, verskeie ribbes m...toe, snye en skaafplekke op plekke wat doodgewone mense met klere bedek, 'n kopvel wat basies los was en terug gegooi moes word (ons het gedink sy gesig is weg), en ander beserings wat liefs ongenoemd moet bly. My geliefde GS? Wel, dink jou in hoe jy sou lyk as jy iemand teen (ok, maak dit dan 180km/h) 'n hoë spoed moet dra teen 'n betonmuur.

Eddie? Hy het homself na 'n week uit George-hospitaal ontslaan en huis toe geryloop. Met pajamas en al. Maande lank moes hy by die huis versorg word tot hy weer regop kon loop.

Annerdag toe karring Eddie hier verby met 'n ou "Dolphin shape"-BM. Mense beduie dat hy nou meer veilig is met vier wiele met 'n dak oor. Tot Eddie noudie dag laer af in die straat deur nog 'n muur is met einste BM. Hy betaal nou af aan die skade anders word hy toegesluit of so het speurder Lucas hom saggies beduie. Die BM staan iewers en wag vir iemand om hom te kom red.

Vanoggend stop hy langs my, soos gewoonlik sonder valhelm en ek beduie vir hom dat hierdie geraas met sy wrak 50 nie meer aanvaarbaar is nie. Ek beduie vir hom dat hy vir hom dertig blinknuwe Busa's of Blades kan koop net met die rente op sy erfporsie. Ek probeer beduie dat dit tog 'n beter manier van raas is. Hy bekyk my asof ek mal is en ref die stuk gemors wat so lelik raas (hy doen dit aspris, ek is doodseker daarvan). "Watter erfporsie?" En toe los ek dit maar, want dit sal tog geen verskil maak om verder te beduie nie, sal dit? Mag mens hard neerkom op 'n mede-biker ('n fifty is immers ook 'n bike, is dit nie?) of is dit 'n grys gebied?

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top