Verlede week was ek in die Paradys … die Okavango-moeras. Dis een van die ongelooflikste plekke op aarde en ek dink enige mens wat dit beleef het, se siel is driedubbel verryk daardeur.
Ons eerste verblyf was op Duba Plains, waarheen ons vanaf Maun gevlieg het. Die vlug was redelik stabiel, in ’n tien sitplek “Caravan”, maar die landing was rof. Ons het net na ’n harde reënbui op ’n grond-aanloopbaan neergeplons, deur poele gejaag, met modderwater wat soos gryswit branders teen die vliegtuigruite opspat! My behoefte aan ’n sterk dop brandewyn (ek drink nie eers nie!) is gelukkig dadelik gestil toe ek die ongelooflike omgewing sien.
Duba is die plek waar Beverley en Derek Joubert die verfilming van Swamp Cats vir National Geographic, gedoen het. Ons is nie teleurgestel nie, want met ons aankoms by die kamp, was daar ’n trop van duisend plus buffels besig om in en om die tente te wei. Ons kon aanvanklik nie naby ons blyplek kom nie en moes wag vir die konings van gehoefde diere om weg te beweeg! Later het ons in gietende reën sit en kyk hoe die moeraskatte die buffels bekruip.
Daar was twee reuse wyfies met drie kleintjies en dit was te skatlik om te aanskou hoe die kleingoed ook kastig die beestelikes bekruip. Op ’n stadium het die hele trop deur die moeras na ’n eiland oorkant toe beweeg en dit het geklink soos ’n supersoniese vliegtuig wat opwarm! Ek het skoon hoendervleis gekry. Later het die leeus gevolg en dit was ongelooflik om te sien hoe hulle deur die water swem … een wyfie voor, kleingoed wat half klou aan haar agterkant en die ander wyfie wat die agterhoede vorm! Omdat hier nie baie ander diere is nie, het die katte aangepas om buffels te vang. Opsigself is dit ongelooflik, want buffels is van die moeilikste prooi. Ons is agterna met die voertuig. Op ’n stadium het die water by die deure ingeloop en ek het roeispane in my verbeelding opgetower.
Na drie dae is ons weer met die “Caravan” die lug in … dié keer na Mombo, wat “Plek van oorvloed” beteken … en wás dit nou oorvloedig! Afgesien van vier groot troppe leeus, luiperds, sebras, kameelperde, rooibokke ens, was dit besonders om lechwe te sien. Hierdie boksoort kom net in die Okavangodelta voor en is spesiaal aangepas om in moerasagtigheid te leef. Hulle hoewe is ook wyer, sodat hulle vinnig kan hardloop in die water en moeras-plantegroei.
Daar was selfs ’n leeuwyfie met ’n maanhaar … seker ’n oormaat van testosteroon. Van die eens groot trop wildehonde is daar net die alfawyfie oor en sy leef al vir drie jaar op haar eie, met twee rooijakkalse as haar metgeselle. Dit pas hulle, want sy doen die vangwerk en die skerpsnoete vreet net. Sy bring selfs vir hulle voedsel op soos wat sy in haar trop sou doen! Tans word daar ’n film van haar ook gemaak en haar bewegings word dag en nag gevolg.
Die voëllewe is oorweldigend en ons het maklik tweehonderd spesies gesien! Ek hoor nog steeds die geroep van die talle visarende en die getwie van ’n reuse-ooruilkuiken, waar hy kermend op ’n tak sit en sy kop driehonderd-en-sestig grade in die rondte draai om vir sy mammie te kweel.
Ai Okavango, paradys van Afrika, jy’t my hart gesteel!
Groetnis van ’n baie nederige
Perdebytjie
Nou is ek darem vreeslik jaloers op jou! – Maggie


