Ek het ʼn teorie oor ʼn mens se brein en musiek. Dis eenvoudig, mense se breingolwe is verskillend en daarom verskil mense se smaak in musiek. Ek hou van baie verskillende soorte musiek, maar is nie regtig ʼn musiekmens nie. Ek het klavierlesse geneem en was mal oor teorie, maar kon na ʼn jaar nie ʼn noot speel nie. Ek sal ook nie voor ander mense sing nie.
Toe verskeie SêNetters skryf dat hulle gunsteling songs van die groep Rammstein is, het ek na hulle gaan luister op YouTube. Die eerste video wat ek kyk, klink toe vir my soos ʼn dik staalketting wat oor ʼn geroeste sinkplaat getrek word. Die woorde is in Duits, so ek verstaan ook nie eens wat hulle grom nie. Die video wys ook die mense in die gehoor oftewel, die fans, wat soos mal mense skree en tekere gaan. Ek dink toe so by myself dat dieselfde mense wat Rammstein-aanhangers is, bekommerd is oor Angus Buchan en sy ondersteuners? Wat de hel? Ek luister en kyk toe nog ʼn paar video's, en hoe meer ek luister, hoe meer fassineer dit my.
Oom Daan het die webwerf met die Engelse lirieke verskaf en toe ek eers verstaan wat hulle sing, kon ek die "musiek" begin waardeer.
My kinders kan dit nie verstaan nie. Hulle is musiekverslaafdes en daar's i-pods aan hulle ore vasgesmelt. "Ma se ore word dan seer as Katie Melua of Norah Jones sing en ma se breingolwe kan nie akkordeer met jazzmusiek nie, maar Ma luister Rammstein! Hulle Pa skud net sy kop en brom: "LitNet."
Gister in my klas het ek egter ʼn ander reaksie gekry. Een van my leerlinge maak my moedeloos. Ek moedig hulle aan om vrae te vra, maar sy sal begin met: "Ma'am, you take the terms with x to the left hand side of the equation and change the signs, right?"
"Yes, Nonhlanhla."
"Then you add and subtract all the like terms, right?"
"Yes, Nonhlanhla."
Vele minute later is sy nog op dreef, besig om stap vir stap deur al vier voorbeelde wat ek so pas verduidelik het, te gaan.
"Do you have a question Nonhlanhla?"
"No Ma'am, I'm just making sure I understand correctly."
Wanneer ek nog baie het om te verduidelik, maak sulke goed my wiele pap. Ek was al bietjie ongeduldig en gee toe vir hulle die hoofstukke waaroor hulle eksamen gaan skryf. Ek was net klaar, toe vra ʼn ander meisie: "Ma'am, which chapters do we have to study for the exams?"
Ek wou net ontplof toe ek opkyk en ʼn seun sien met ʼn i-pod-kabeltjie wat uit sy ore hang.
"Cameron, what are you doing?!!"
"Listening to Heavy Metal, Ma'am!"
Voor ek myself kan keer, vra ek: "Do you know Rammstein?" Of hulle Heavy Metal is, sal ek nie weet nie.
Daar sak ʼn stilte neer. Ek hoor hoe een kind fluister: "Ma'am listens to Rammstein!"
"Cool," fluister ʼn ander.'
Voor ek hulle kan reghelp, sien ek die lig in hulle ogies aanskakel. Die meer aan die slaap kinders wat agter sit en wonder wat nou gebeur het, word ook ingelig.
As jou ‘cool'-heid ʼn graad of twee gestyg het, sê jy nie ʼn woord verder nie.
Vega


